Wavecrest steeds skelms se teiken

Piet Liebenberg
ONDANKS die polisie se versekering dat hulle reeds mense in hegtenis geneem het en verwag om nog meer te arresteer vir die vlaag inbrake in Wavecrest die afgelope maand, het diewe weer Dinsdagoggend vroeg toegeslaan.
Weer eens was die modus operandi dieselfde as met die vorige inbrake. Volgens die inwoners van die huis, wat verkies om anoniem te bly, het die diewe toegang tot die huis verkry sonder dat hulle wakker geword het. Hulle het ook nie wakker geword toe hul honde in die agterplaas, aldus hul buurvrou, begin blaf het vroegoggend nie. Die diewe het soos met die ander inbrake in Wavecrest hoofsaaklik kontant, selfone en elektroniese toerusting soos skootrekenaars gesteel.
Die vrou sê hulle selfone is langs die bed in hul slaapkamer gesteel. Nie sy, haar man of hul dogtertjie, wat in die kamer geslaap het, het wakker geword nie.
"Hulle het ook die vermetelheid gehad om gekookte hoender uit die yskas te steel,” het sy gesê.
Sy is veral ontsteld oor die familie se foto's op die skootrekenaar wat nou tot niet is.
Die diewe het blykbaar die veiligheidshek by die voordeur oopgeforseer. Die slagoffers meen hulle is op een of ander manier verdoof deur die oop slaapkamervenster.
Adjudant-offisier Petra Els van die Jeffreysbaaise polisie het gesê sy kan nie met sekerheid sê mense word wel verdoof nie. Sy het beaam hulle patrolleer die woongebied gereeld en dat daar wel ‘n afname in inbrake was.
Sy het weer eens ‘n beroep gedoen op inwoners om die alarm binne die huis te aktiveer.
Sy het gevra die publiek moet alle verdagte optrede aanmeld by die polisie: (042)200- 6802/3 of 079 -1228 of ao Jacques Potgieter by 072- -414 -2090,Wavecrest se sektorbestuurder.

subscribe