Kommer oor stygende inbrake

EK is baie bekommerd oor die sterk styging in inbrake wat by my kantoor aangemeld is.


In die afgelope ruk is vyf huisrowe by my kantoor aangemeld en dit is ’n groot bron van bekommernis.


Misdaad bly die gebied van die polisie maar daar is ook groot samewerking van ’n groep vrywilligers van die Lorraine-buurtwag wat daagliks patrolleer.


Dit is nie ’n geheim dat die polisie om verskeie redes nie in staat is om misdaad te beveg nie en ek moedig alle inwoners aan om buurtwagte te stig.


Elke inwoner moet hul deel doen om by te dra tot die veiligheid van hul bure.


Almal kan ’n bydrae maak. Baie van die bejaardes in Lorraine kan nie patrolleer nie, maar as hulle in hul tuine werk of met hul honde loop en hulle sien iets wat verdag lyk, weet hulle wie om te skakel.


As raadslid vergader ek elke week met JP Nel, die sektorbestuurder van die Walmer-polisie, en ook met die voorsitter van die Lorraine-buurtwag om beplanning te doen.


Ons het onlangs veldtogte gereël om misdaad te voorkom met die berede polisie, buurtwag en loerbroer (’n voertuig toegerus met kringtelevisie) wat baie suksesvol was.


Ek moet ook ’n beroep doen op inwoners om alles in hul vermoë te doen om hul huise (selfs in ’n veilige kompleks) te beskerm en seker te maak dat alles toegesluit is.

subscribe