Een van Patensie se grotes

Veronica Fourie
EEN van die legendes en avonturiers van die Gamtoosvallei is Woensdag 26 September oorlede.

Heston Ferreira het by sy weeklikse byeenkoms met sy gebedsmaats by sy huis op Jeffreysbaai ‘n erge pyn gekry. ‘n Oomblik later is hy aan ‘n hartaanval oorlede. Hy was 65.

Ferreira was veral bekend vir sy deelname aan 4x4-geleenthede. Hy het al die Enduro-kompetisie en die Eko-uitdaging gewen.

Dit was sy passie om ander 4x4-entoesiaste met raad en daad by te staan om ook bo uit te kom. Hy het die eerste keer in 1994 in die Kalahari ‘n 4x4-rit onderneem en van toe af was daar diesel en stof in sy are.


Met ‘n 2.8 Isuzu-bakkie het hy en sy vrou, Fien, met drie ander paartjies van die mees suidelike punt van Afrika tot die mees noordelike punt in Noorweë deur Afrika se oostekant gereis. Later het hulle die westekant van Afrika gepak – van Italië tot by die huis.


Sy gunsteling was om die duine in Namibië uit te ry. Dit was sy droom om met al agt sy kleinkinders daar te ry. Ander drome was om in Suid-Amerika en in die Oosbloklande met sy eie voertuig te gaan toer.


Ferreira was ‘n groot gees in die Gamtoos se rugbykringe en het tot op 48 nog saam met sy seun, Dawson, vir die Ferreirarugbyspan vir die jaarlikse kragmeting met die res van die vallei uitgedraf.


As sitrusboer op Fraai-uitsig naby Patensie was hy bekend vir die planne wat hy gemaak het om in vloedtye oor die rivier te kom. Hy en sy hond, Nonna, was ‘n bekende gesig in sy jeep op Patensie.
Hy laat sy vrou, seun, dogters Mariska, Heloise, Luzaan en kleinkinders na.

subscribe