Kouga en Abdullah skik finaal

Piet Liebenberg
DIE Kouga plaaslike munisipaliteit hoef nie weer sy voormalige finansiële direkteur, Ridwaan Abdullah, aan te stel nie. Hy sal wel betaal moet word tot Junie, wanneer sy kontrak verstryk.
Regter Robert Lagrange het in die arbeidshof beslis dit is nie wenslik dat Abdullah terugkeer nie aangesien die munisipaliteit vertroue in hom verloor het.
Verder het Lagrange ook bevind dat albei partye hulle eie regskostes moet betaal.
In Abdullah se afdankingsbrief, wat in Our Times se besit is, sê die waarnemende munisipale bestuurder Sydney Fadi die Kouga-raad blameer die vorige top-bestuur van die munisipaliteit, wat Abdullah insluit, vir die haglike toestand van die munisipaliteit se finansies. Hulle het egter alle aanklagtes teen hom teruggetrek en hy sal nou wegstap van die munisipaliteit met ‘n skoon rekord.
In September 2010 het die KM bekend gemaak hulle het die ouditeursfirma KMPG gelas om Abdullah se betrokkenheid te ondersoek by die toestaan van ‘n kontrak vir die verskaffing van voorafbetaalde elektrisiteit aan die munisipaliteit. Volgens die verslag, wat in Our Times se besit is, is bevind dat familielede van Abdullah betrokke was by Elektro-on-theMove, die organisasie wat die kontrak bekom het. Abdullah, wat deel was van die proses, het volgens hulle nie sy belange behoorlik verklaar nie. Hulle het ook voorgestel dat die munisipaliteit stappe moet neem.
Burgemeester Booi Koerat het op die raadsvergadering van 20 Desember gesê die R6-miljoen wat uitstaande is van Electro-on-the Move gaan aan hul prokureurs oorhandig word. Hy het ook gesê diefstal en korrupsie sal nie geduld word nie. In die notules van die vergadering het Koerat ook verwys na die KMPG-veslag.
Na ‘n verdere ondersoek deur KMPG in Augustus 2011 het KPMG ook aanbeveel dat die munisipaliteit stappe teen Abdullah en ander senior bestuurders moet neem.
Our Times het ook die verslag waarin beweer word dat daar ongemagtige uitbetalings aan senior bestuurders gemaak is.

subscribe