Helpende hande


MET die hulp van die Concerned Citizens-groep van Malabar kan moeders, oumas en oumagrootjies nou hul eie geldinsamelings reël. Die Concerned Citizens het verlede maand die "Buddy”-groep in die Malabar-ouetehuis op die been gebring. Dit gee lede ’n struktuur wat hulle kan gebruik om geld in te samel.


Die Concerned Citizens is oorspronklik gestig om die Malabar-tehuis te help met verskeie noodsaaklikhede.


Twee jaar gelede het die 10 lede hul volgende projek by die AAA Safe Haven in Westering aangepak. Die organisasie samel geld in deur aktiwiteite te reël vir organisasies in hul omgewing.


Die groep se voorsitter, George Yenketamy, sê hulle wil nuwe groepe stig om die organisasie te laat groei.


"Die Concerned Citizens is besig om ’n verskil te maak in ons gemeenskap, maar daar is nog baie wat gedoen moet word. Dit is waarom ons die "Buddy”-groep by die Moedersdag-geselligheid gestig het. Ons wil ’n komitee uit die tehuis kies wat self geld kan insamel.”


"Dit is wat ons uiteindelik ook in ander gebiede wil doen. Die mense van die verskillende organisasies kan dan self in hul behoeftes voorsien en hoef dan nie meer van ander mense afhanklik te wees nie,” het Yenketamy gesê.


"As ons ’n verskil wil sien, is dit ons verantwoordelikheid om toe te sien dat dit gebeur.”

subscribe