Atlete van die lug

Henri Stiglingh
ONS kyk na die natuur en ons gevleuelde vriende en hoe hulle ons lewens kan aanvul net deur hulle dop te hou. Van die kleinste voëltjie tot die grootste roofvoël het eienskappe wat eie aan elkeen is.
Vandag kyk ons na die atlete in die lug, naamlik ons wedvlugduiwe.
Duiwe is van altyd af gebore as atlete en staan oor die hele wêreld bekend as die atlete van die lugruim. Hulle word gebore en word groot in die lentemaande. In die somer en begin van die herfs, maak hulle hulleself gereed om ‘n nuwe veredos aan te skaf vir die winter.
Elke jaar van Februarie tot die einde van Maart, verveer die duiwe. Hulle verloor stelselmatig al hulle lyfvere en groei nuwes in hulle plek. So verloor hulle dan ook hulle vlerkpenne een vir een totdat die laaste een uitgegooi word en nuwes uitgroei in die plek van die oues.
'n Duif het tien vlerkpenne aan elke vlerk en hy gooi vere uit van binne na buite. Die buitenste vlerkvere staan bekend as die primêre vlerkpenne en die binneste vere as die sekondêre vlerkvere. Die vere van ‘n duif is daar vir hulle beskerming teen koue sowel as teen uitermate hittetoestande. In die noordelike halfrond vind presies dieselfde plaas, behalwe dat hulle maande natuurlik verskil van somer na winter. Dit het dan tot effek dat as ons duiwe invoer van die noordelike halfrond na die suidelike halfrond, die duiwe hier eers moet akklimatiseer om by ons seisoene aan te pas en dit is ‘n proses van minstens een jaar voor hulle weer in hulle normale siklus van verveer kan kom.
As ‘n duif so in ‘n ververingsproses is, gebruik hy 30% van sy energie om weer nuwe vere te produseer en dit is die rede waarom duiwe glad nie aan wedvlugte deelneem tydens die verveerseisoen nie. Hulle moet eers in ‘n baie gesonde en fikse toestand wees voordat daar enigsins gedink kan word aan wedvlugte. Om te bepaal wanneer ‘n duif in ‘n goeie en fikse toestand is om soos alle atlete op aarde te kan deelneem aan kompetisies, moet hy natuurlik die regte voeding en oefening kry. Sy gesondheid word gou na buite weerspieël. Hy sal sagte en blink vere ontwikkel en sy oë sal skitter as teken van gesondheid.
Goeie voeding sluit bo en behalwe die normale rantsoen van ‘n gebalanseerde dieet ook byvoedings in. Hier maak duiweboere gebruik van natuurlike produkte soos melkpoeier, appelasyn, sonneblomolie, canola-olie en vitamines. Om ‘n goeie atleet af te rig, verg kennis, waarnemingsvermoë en dissipline. Wat verder baie belangrik is, is die vertrouensverhouding en liefde tussen eienaar en duif.
Meer inligting omtrent ons atlete in die lug sal van tyd tot tyd verskyn.

subscribe