Bedelaar bedrieg mense

Piet Liebenberg
BARMHARTIGE Samaritane van Jeffreysbaai word gewaarsku om nie toe te laat dat ‘n jong vrou, wat op mense se gevoelens speel met leuens dat haar baba doeke en kos nodig het, hulle om die bos lei nie.
Die polisie ondersoek ‘n saak na klagtes oor ‘n jong vrou wat onder valse voorwendsels geld bedel en dit dan glo gebruik om dwelms te koop.
Our Times het ook verskeie klagtes gekry van mense wat deur hierdie vrou ingeloop is.
'n Pensioentrekker, wat verkies om anoniem te bly, sê die vrou het sowat R4000 uit haar man gekry voor hy besef het wat aangaan.
Een van haar leuens is dat haar kind se been gebreek is en dat sy geld nodig het om hom na ‘n hospitaal te neem. Een van haar slagoffers sê hy het eers later uitgevind die vrou het glad nie ‘n kind nie na hy haar geld gegee om die kind Port Elizabeth toe te vervoer vir behandeling. Daarna het hy haar ook geld gegee vir ambulansonkostes om die kind Kaapstad toe te neem vir spesialisbehandeling.
Sy vra glo altyd vir die aankoopstrokies wanneer sy iets uit mense kry. Haar slagoffer het later agtergekom dat sy die goedere omruil vir kontant wat sy gebruik om dwelms te koop.
Personeel van Checkers by die Equinox-winkelsentrum het bevestig hulle het verskeie kere goedere teruggeneem wat sy vir kontant kom inruil het.
Die vrou verkoop ook glo soms fudge of ander goedere op straat. Volgens gerugte gee ‘n kerk vir haar en haar metgesel dikwels kos en klere wat sy glo verkoop vir dwelms.

subscribe