Piet Liebenberg
INWONERS van sekere dele van Wavecrest in Jeffreysbaai sukkel reeds die afgelope vier jaar met vuil water en beweer nou dat die Kouga-munisipaliteit nie die kennis of geld het om die probleem op te los nie.Ludwig Vorster wat in Campherstraat woon, sê dit help nie om te kla nie aangesien daar niks gedoen word aan die probleem nie.

Vorster, wat reeds jare sukkel met vuil water, vermoed die bestuur van die watersuiweringsaanleg is gebrekkig. Vorster moet noodgedwonge die water filtreer voor dit geskik is vir menslike gebruik.

“Dit kos my ongeveer R500 elke drie maande om die filters te vervang” sê Voster.
Hy dring daarop aan dat die water deur ‘n onafhanklike party getoets word. Hy sê die munisipaliteit se toetse weerspieël nie die waarheid nie.
Paul Roscherr van Noorsekloofstraat vermoed die munisipaliteit suiwer nie brak boorgatwater behoorlik wat na hulle gepomp word nie. Roscherr het bevestig dat hy en sy buurman, Jan Kemp, gereeld hul krane moet oopdraai in ‘n poging om die pype skoon te bloei. Hulle is ontevrede dat hulle ten duurste moet betaal vir hierdie water en dat hul rioolkostes dienooreenkomstig hoër is.

“Ons moet elke jaar elektriese toerusting soos ketels en geysers wat geroes het, vervang,” sê hulle.
Kemp het reeds drie geysers sedert 2006 wat deurgeroes het, vervang. Hulle drink ook geensins munisipale water nie en koop gebottelde water ten duurste aan. Kemp is ook van mening dat die boorgatwater nie na behore behandel word nie.
’n Inwoner van Wonderboomstraat wat verkies om anoniem te bly, sê hulle moes in die verlede wit beddegoed weggooi wat volgens hom deur die water gevlek is. Hy vermoed die munisipaliteit weet nie hoe om die probleem op te los nie. Hy weet dat hulle werkers instruksies het om elke Maandag die waterpype leeg te bloei, maar hy sê dit gebeur nie gereeld nie.
DA raadslid, Dave Aldendorff het bevestig dat die publiek die waterprobleme aan hom rapporteer het.

“Hierdie is ‘n probleem vir die inwoners van bo-Wavecrest wat ek met die munisipaliteit se amptenare bespreek het, maar geen aksie word geneem nie.”
Aldendorff dink dat boorgatwater nie gebruik moet word tot die probleme opgelos is.

Mfundo Sobelo, munisipale woordvoerder, sê die probleem is as gevolg van ou en gebreekte pype. Hy sê die probleem is vererger na die swaar reëns, maar verseker die munisipaliteit skenk aandag aan die probleem.

Loading ...
Loading ...