Piet Liebenberg
’n JEUGDIGE wat verlede Dinsdag helder oordag in Wavecrest, Jeffreysbaai ‘n kruiwa vol gesteelde goedere gelaai het en ewe kordaat die pad gevat het, moes sy buit terugstoot na die huis wat hy besteel het.
’n Inwoner van Pagodasingel, wat oorkant die perseel woon waar die goedere gelaai is, het gehoor hoe die kruiwa in die pad gestoot word. Haar man, wat verkies om anoniem te bly, het die rakker agterna gesit en ‘n ent verder is hy in Da Gamastraat vasgetrek. Daar is hy mooi gevra om die kruiwa terug te stoot.
Na hy die goedere ewe gehoorsaam terugbesorg het, het hy baie vinnig die pad gevat, sonder sy skoene.

Teen dié tyd was die hele buurt al in rep-en-roer. ‘n Klomp mense wat in die omgewing woon, het die man agternagesit en hy is op die strand deur ‘n karwag vasgetrek.
Die polisie was binne minute op die toneel en sersant Leon Nel, ‘n lid van die Polisie se honde-eenheid op Humansdorp het die jeugdige gearresteer.
Volgens kaptein Annemarie Botes van die SAP op Jeffreysbaai moes hulle noodgedwonge die jeugdige laat gaan aangesien die mense wat besteel is nie bereid was om ‘n saak te maak nie.
Botes het gesê misdadigers steel toenemend yster aangesien strenger wetgewing dit al moeiliker maak om koper te steel.

Slegs gesertifiseerde elektrisiëns mag deesdae koper tweedehands verkoop.

Loading ...
Loading ...