Hupstoot vir nooddienste

Cindy Liebenberg
NOODDIENSTE in die Kouga het hierdie week ‘n hupstootjie gekry met die toevoeging van nog ‘n privaat ambulansdiens.

Die diens, wat aan Paramedics in Port Elizabeth behoort, beskik oor ‘n ten volle toegeruste ambulans wat 24uur beman word deur twee goed opgeleide paramedici, Robin Brown en Robert Botha.
Hoewel die maatskappy se beheerkamer in Port Elizabeth alle oproepe hanteer, is die ambulans by Brown se huis op Jeffreysbaai gestasioneer om vinnig plaaslike nood te kan verlig.

Brown, wat ook die adjunk-stasiebevelvoerder van die Jeffreysbaaise tak van die NSRI is, sê hy en Botha is albei opgelei om die meeste noodgevalle te kan hanteer. Vir gevalle wat bokant hul vuurmaakplek is, kan hulle vinnig hulp kry van die maatskappy se gevorderde bystandspan, sê hy.

Hulle werk saam met alle mediese fondse en sal van geen pasiënt verwag om kontant op te dok alvorens hulle hulp ontvang het nie, sê hy. Skakel hulle op: (041)379-2111.

subscribe