Ysterperde help kinders


ONDANKS die yslike finansiële verknorsing waarin hulle verkeer, druk werknemers van Ithemba, 'n spesiale dagsorgsentrum, steeds elke dag deur. Soos een van hulle dit stel: "Elke oggend word 'n mens wakker met die besef dat jy iemand se lewe vandag beter gaan maak".


Die sentrum is aanvanklik in 1988 begin deur maatskaplike werkers van die Port Elizabethse geestesgesondheidsvereniging – Jill Gardener, Fezi Quma en Boniswa Gege. Dié drie se navorsing het hulle van die groot nood vir spesiale dagsorg oortuig.


Al die kinders is erg verstandelik en sommige ook liggaamlik gestrem. Die dagsorg is eers in die Dora Nginzahospitaal begin en het later na Windvogel verskuif na grond wat die munisipaliteit vir hulle gekoop het.


Die sentrum se koördineerder, Maureen Miles, sê hulle is nie van plan om handdoek in te gooi voor hulle nie elke laaste uitweg probeer het om die dagsorg oop te hou nie.


Hul geldelike probleme het begin toe Be-More, 'n Nederlandse organisasie, hul geldelike steun onttrek het, het Miles gesê.


"Hulle het gesê die geld is meer noodsaaklik in Noord-Afrika."


Daarna het die staatslotery ook die geld gestaak wat die dagsorg van die lotto ontvang het, het sy gesê.


"As dinge nie verander nie, sal ons moet toemaak. Dit kos ons meer as R50000 'n maand om die dagsorg aan die gang te hou – ons sal die geld iewers moet kry.


"Maar ons sal nie toemaak voor ons nie alles probeer het nie. Ons beskou dié kinders as ons eie. Sal jy op jou eie kinders opgee?"


Die sentrum, wat vir 44 kinders sorg, se doel is om die kinders hoop te gee. Hulle fokus op lewensvaardighede en nie 'n skoolsillabus nie.


Hul nood het onder die aandag van 'n motorfietsklub, die Straw Dogs, gekom. Dié klub help hulle al die afgelope twee jaar met geld van die Dolphin-motorfietssaamtrek.


"Hulle het ons al baie gehelp. Vanjaar het hulle met die hulp van Mr Shakes R14000 by motorfietsryers op Kings Beach by die Dolphin Rally ingesamel. Ons is dankbaar vir al die donasies wat ons kry. Maar ons het altyd meer nodig. Diegene wat nie geld het nie, kan hul tyd gee. Ons het altyd vrywilligers nodig. Dit beteken meer vir dié kinders as wat 'n mens dink."

subscribe