Weseinde tree op teen misdaad


DIE inwoners van Weseinde sê hulle is moeg vir misdaad wat hul strate beheer. Pleks van te kla, het hulle die West End Sub-Sector Crime Forum (WESSCF) gestig.


Een van die sewe lede van die beheerliggaam, Fuzlin Rowan, sê die polisie het erken hul hulp is nodig om die probleem aan te spreek.


"Daar is nie genoeg polisie nie. Ons kan nie net verwag dat hulle alles kan regmaak nie – dit is onmoontlik. Ons moet hulle ondersteun as ons ’n verskil in ons gemeenskap wil sien,” het Rowan gesê.


Ná ’n jaar se beplanning het 27 lede van WESSCF hulself op 2 Junie by die parkeerplek van Weseinde se biblioteek bekend gestel.


Mense is van misdaad en die dwelmprobleem bewus gemaak deur voorstellings van werklike gebeure met die hulp van die polisie en verkeersdepartement uit te beeld.


"Dit was ’n groot sukses. Tien mense het by die forum aangesluit. Baie meer mense stel nou belang om aan te sluit en hul samewerking te gee,” het Rowan gesê.


Die Atlas-veiligheidsmaatskappy lei lede op om seker te maak hulle kan hulself en ander beskerm.


WESSCF het reeds saam met die SAPS straatligte in Weseinde help opsit. Hulle samel ook geld in vir die Weseinde Primêre Skool wat hulle onder hul vlerk geneem het. Hulle beplan ’n galageleentheid later vanjaar.

subscribe