Vleis by die tonne


WANNEER jy jou oor diere ontferm, kyk mens nooit 'n gegewe perd in die bek nie – veral nie as dit vier ton hoendervleis is nie.


"Dit was 'n aanbod wat ons nie kon weier nie," het Patsy Wagner, veldwerker van die Bond teen Wreedheid teenoor Diere gesê van die donasie van vier ton hoendervleis wat 'n slaghuis in die Baai hulle onlangs aangebied het.


Sy sê hulle het soos gewoonlik deur hul e-posse gegaan toe hulle op die verstommende aanbod per e-pos afkom.


" Ons was heeltemal uit die veld geslaan.


"Dit beteken vir ons baie dat mense die werk wat ons doen, raaksien en hul deel wil doen om te help," het Wagner gesê.


Die sentrum sorg op die oomblik vir net agt honde in die hokke op hul perseel, maar daar is baie vrywilligers in die Noordelike Gebiede wat vir die Bond se honde sorg.


Sy sê hulle gaan die kos deel tussen die diere in gesinne se pleegsorg en ander dierewelsynsorganisasies in die Baai, soos die metro se dierebeheer, Ellen Dunning wat vir die skut werk en Vastrap.


"Ons gaan elke maand uit om diere te steriliseer in arm woonbuurte en dit is hoe die slaghuis van ons gehoor het.


"Ons organisasie maak staat op donasies om maandeliks te kan oorleef. Dié donasie wys vir ons daar is nog baie goeie harte in die Baai," het Wagner gesê.


Dit is die grootste donasie wat die Bond nog gekry het. Wagner het gesê hulle gaan dit presies gebruik waarvoor dit bedoel was.


"Ons het nog nooit so 'n groot donasie van een mens gekry nie. En ons gaan die donateur se wens eer en die kos net vir die diere gee.


"Ons is verskriklik dankbaar vir die donasie. Ons is altyd in nood – buiten kos, is komberse, hondehokke, speelgoed en enigiets wat ons kan gebruik, welkom," sê Wagner.

subscribe