Verwaarloosde skool kry hupstoot van vrywilligers


DIE Adolf Schauder Primêre Skool in Schauderville het 'n hupstoot gekry toe Pragma verlede maand gaan hand bysit het om geboue en hulpmiddels te verbeter.


Pragma se batebeheer-koördineerder, Sibu Kolobile, sê die skool het hulp bitter nodig.


"Die skool het dienste bitter nodig en die gemeenskap het nie die geld om te help nie.


"Die skool behoort opgeknap te word en die leerlinge moet 'n omgewing kry waarin hulle behoorlik op hul skoolwerk kan konsentreer, sonder om oor ander dinge bekommerd te wees," sê sy.


Die skool is in 'n gebied geleë waar armoede, verwaarlosing en mishandeling 'n alledaagse gebeurtenis is.


Juis om die rede sien die kinders uit daarna om elke dag skool toe te gaan. Die skool is vir hulle 'n plek van troos en veiligheid, 'n plek waar hulle kan vriende maak en die lewe geniet sonder om aan hul dikwels benarde huislike omstandighede te dink. Daarom is dit noodsaaklik dat die skool vir hulle so aangenaam moontlik gemaak moet word, sê sy.


Drie van Kolobile se kollegas het deur die skoolgeloop en die geboue en die onderwyshulpmiddels onder soek.


"Hulle het aanbeveel dat die swartborde in die klaskamers oorgeverf moet word. Ons het saamgesit en besluit oor wat ons nog kon doen. Uiteindelik het ons besluit die kinders moet skryfbehoeftes kry."


"Ons span van 19 het 14 borde oorgeverf en pakke skryfbehoeftes vir 460 kinders saamgestel, met al die basiese benodigdhede soos potlode, skryfboeke, papier, uitveërs en dies meer.


"Ons weet dat hierdie projek 'n groot verskil in die lewens van daardie kinders by Adolph Schauder gemaak het," het Kolobile gesê.


subscribe