Vegter wat opstaan

DIE Mackay-gesin van Korsten moes al baie keer ankers oplig, maar het altyd seker gemaak dat hulle ’n positiewe invloed uitoefen waarheen hulle ookal moet gaan.
Tennyson Ronald Mackay staan as die hoofman van sy familie bekend in Wes-Pondoland, waar hulle gewoon het voor hy met sy eerste vrou, Ethol, na Suideinde in Port Elizabeth moes trek as gevolg van apartheid. Die apartheidsregering het gedreig dat hulle hul Suid-Afrikaanse burgerskap sou verloor indien hulle nie trek nie.
Dié afgetrede onderwyser sê hy en sy vrou moes van plek tot plek in Port Elizabeth trek weens apartheid.
“My vrou van 40 jaar en ek wou nooit die Transkei verlaat nie. Maar ons het nie ’n keuse gehad nie. En toe ons in die Baai beland het, moes ons eers van Suideinde na Noordeinde en uiteindelik na Korsten toe trek waar ons nog steeds bly,” vertel Mackay.
Die Mackays het dit nie daar gelaat nie. Die geesdriftige bokser was deel van die South African Council of Sport (Sacos) wat teen rassisme in sport gereg het.
Mackay se groot veggees is aan sy vier kinders – Ilana, Ilva, Bruce en Naomi – oorgedra.
“Al my kinders was deel van die stryd teen apartheid. Hulle was almal by studenteprotes betrokke – veral Ilva en Bruce.
“Dit het veroorsaak dat Bruce na Engeland toe moes uitwyk toe hy net 16 was om daar by my familie te gaan bly. Ilva moes weer Zambië toe waar sy ook by familie gaan bly het. Bruce bly nog steeds daar en Ilva bly nou in Johannesburg. Maar al my kinders kom kuier darem gereeld,” sê Mackay.
Mackay sê hy is nog baie gelukkig in sy Korsten-huis waar hy nou al oor die 30 jaar bly. Die afgelope jaar woon sy nuwe vrou, Yvonne, saam met hom. Hy het haar by ’n sportbyeenkoms, ’n paar jaar ná Ethol se dood, ontmoet.
Dié stigter van die Alpha Primêre skool en die Serpent Boksklub in Gelvandale, sê hy het nog murg in sy pype al is hy 85. Hy sê hy sal in sy sewe kleinkinders en drie agterkleinkinders voortleef.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.