Sy maak 'n verskil


SY LYK skaam en sag op die oog af, maar die geluk van 650 kinders in Schauderville rus elke dag op Mandy Spies van Morningside se skouers.

As geldinsamelaar vir die SOS Children's Village in Schauderville, is Spies daarvoor verantwoordelik om genoeg geld vir die dag-tot-dag onkoste van dié kindersorgsentrum in te samel.

"Op 1 Desember is ek al 12 jaar by SOS. Ek het 'n graad in maatskaplike werk en was oorspronklik 'n maatskaplike werker. Ek het vyf jaar by Famsa gewerk voor ek by SOS aangesluit het.

"My ma, Amanda, het eintlik aansoek vir die pos by die SOS gedoen.

"Sy is op die aand van die eerste geldinsamelingsgeleentheid wat ek vir SOS gereël het, oorlede.

"Ek het altyd geglo God het haar besluit gelei. Dit is Sy wil dat ek in 'n posisie is waar ek regtig 'n verskil in ander se lewens kan maak," sê sy.

Om geld in te samel, is stresvolle werk – veral as 650 kinders daarop staatmaak. Was dit nie vir haar kollegas en man nie, sou sy dit nooit kon volhou nie, sê sy.

"Ek is baie dankbaar vir die SOS-span. Maar my man, Derrick, met wie ek al vyf jaar lank getroud is, is my rots. Hy is altyd daar vir my.

"Hy is 'n joernalis en het my al baie gehelp met mediageleenthede.

"Wanneer ek nie met werk besig is nie, doen ek kralewerk. Niks is beter terapie vir my nie."

Haar kreatiwiteit sorg vir die talle suksesvolle geldinsamelingsprojekte waarvoor sy al verantwoordelik was.

Die jongste hiervan, is die Happy Feet-veldtog.

"Met 'n skenking van R150 aan SOS, kan ons skoolskoene koop.

"Ek het van kinders gehoor wat nie skool toe kan gaan nie omdat hulle nie skoene het nie. Ons kan nie toelaat dat 'n paar skoene kinders uit die skool hou nie."

subscribe