Sy gee neseier om hongeres te voed


'n SOPKOMBUIS wat met Jeanny Edwards se werkloosheidversekeringsgeld begin is ná besnoeiing by haar werk, voer deesdae meer as 'n duisend honger mae in Malabar Uitbreiding Ses.


Edwards het "Jeanny's Soup Kitchen" 14 jaar gelede begin toe sy haar werkloosheidsuitkering gebruik het om elke maand vir 180 kinders kos te koop en dit te kook.


"Wanneer daardie geld op was, het ek van winkel tot winkel geloop en kos gevra om die kinders te voer. Mense het so van ons gehoor en ons het meer donasies begin kry.


"Nou voer ons meer as 'n duisend kinders en meer as 'n honderd volwassenes drie tot vier keer 'n week in Uitbreiding Ses, Sewende Laan en die Malabar-gruisgroef," sê Edwards.


Edwards, wat ook 'n veldwerker is vir die Nkosinathi-stigting vir blindes en swaksiendes en 'n gesondheidswerker by die Gelvandale-kliniek, sê sy maak 'n verskil in haar gemeenskap met die Here se hulp.


"Ek bly self in Uitbreiding Ses waar ek elke dag sien hoe die mense sukkel," sê sy.


Edwards is vir haar vrygewigheid vergoed toe sy in 2006 GM se Inkuthazo-projek gewen het en R10000 ontvang het. Met die hulp van haar vyf werkers en die geld het Edwards 'n groot stoof, potte, kos en 'n kragopwekker gekoop om 'n beter diens aan haar buurt se mense te lewer.


Die Here is haar inspirasie en die beloftes wat sy aan die kinders en die Here gemaak het, gee haar rede om elke dag op te staan, sê Edwards.


"Ek sit net my geloof in die Here. Hy maak seker dat ek en my kinders nooit honger ly nie.


"Ek moet ook dankie sê aan al die mense, sake-ondernemings en organisasies wat ons die afgelope 14 jaar gehelp het. Daar is altyd nog nodig," sê sy.


Mense wat wil help, kan Edwards by 083-673-8155 kontak.

subscribe