Straat al 25 jaar saam

DIE buurtwag-stelsel bied vir die 88 inwoners van Haywood-plek, Heathpark baie meer as bloot beskerming.Vir hulle is dit meer soos ‘n uitgebreide familie. In die 25 jaar wat die buurt bestaan, het nie een van die oorspronklike inwoners van die 11 huise in die straat weggetrek nie.
Wesley Blignaut, woordvoerder van Haywood-plek, sê dit is die gevoel van “ubuntu” wat inwoners daar hou.
“Ons het almal in dieselfde week in die straat ingetrek. Toe ek hier ingetrek het, was ek ‘n enkellopende man soos die meeste van die ander intrekkers. Ons het mettertyd almal getrou en ons gesinne het al groter geword.
“Ons het almal oor die jare soos een groot familie geword – ons bure se kinders is soos ons eie behandel. Ons het saam uitdagings aangepak en saam oorwinnings gevier,” het Blignaut gesê.
‘n Feesnaweek vol pret is die afgelope Desember gehou om die 25ste herdenking van die straat se bestaan te vier, het Pastoor Clive Kivedo gesê.
“Ons het dit oorspronklik beplan vir ons 21ste jaar saam, maar dit het nie uitgewerk nie. Toe die 25ste jaar aanbreek, het ons seker gemaak dat ons nie die geleentheid deur ons vingers laat glip nie.
“Ons het begin met ‘n dankseggingsdiens. Daarna het ons balonne losgelaat. ‘n Gebed is op elkeen geskryf om die een wat die balon waarookal kry te seën.
“Daarna was dit feestyd met drie dae van braai, potte, speletjies en geselligheid. Ons het selfs karaoke en Kersliedere by kerslig gehad en ‘n Kersspel wat die kinders vir ons opgevoer het. Alles wat gedoen is, het ons almal saam gedoen,” het Kivedo gesê.
Hy sê Haywood-plek is ‘n voorbeeld van hoe eenheid geluk bring.
“Deur na hul bure se welstand om te sien, is hierdie inwoners in beheer van hul straat en kan hulle vir hul kinders ‘n veilige omgewing bied. Dit kan ‘n voorbeeld stel vir almal in die Noordelike Gebiede.”

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.