Stortingsterrein is gesluit na klagtes


JARE se klagtes oor die stortingsterrein by Kraggakamma het tot die sluiting daarvan Maandag gelei.


Kennisgewingsborde is oral opgerig en strooibiljette is ook aan motoriste uitgedeel om inwoners oor die sluiting te waarsku.


Volgens wyk 9 se raadslid, Heinrich Muller, is daar al Dinsdag begin met die opgradering van die terrein. Daar word onder meer beplan om die infrastruktuur te verbeter om vir beter verkeersvloei te sorg.


"Daar word ook beplan om sewe stortbakke op die terrein te plaas.


"Dit is moeilik om te voorspel wanneer die opgradering voltooi sal wees. Volgens inligting van die munisipaliteit sal dit nie voor Desember wees nie.”


Muller het gesê die opgradering sal ongeveer R1.6-miljoen kos.


Inwoners word nou aangemoedig om gebruik te maak van die ander stortingsterreine in die Baai.


Die naaste een is by Hunters Retreat. Daar is ook terreine in Walmer, Algoapark en Arlington.


"Die munisipaliteit gaan meer stortbakke by Hunters plaas. Hulle verwag dit sal die alternatief wees vir die meeste mense wat die Kraggakamma-terrein gebruik het,” het Muller gesê.


Hy het bygevoeg dat hy talle klagtes oor die storting by Kraggakamma ontvang het.


"Ek glo dat die volgehoue druk van my kantoor, en die beswaarde inwoners se klagtes daartoe gelei het dat daar eindelik aandag gegee is aan die probleem.”


Muller het ook gesê die munisipaliteit het ’n kennisgewing van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme ontvang waarin hulle in kennis gestel word om onmiddellik aandag te gee aan die swak bestuur en toestand van die vullishoop.


"Die munisipaliteit word nou deur die wet gedwing om die terrein op te gradeer.”


Muller het gesê die munisipaliteit gaan ’n werknemer by die terrein plaas om mense na ander terreine te verwys en om teen mense op te tree wat hul vullis buite die hekke stort. Boetes van R2000 kan opgelê word.


subscribe