St Thomas beste in O-K

’n SPANNETJIE wetenskap-leerlinge van die Hoërskool St Thomas in Gelvandale wat vir ’n kompetisie ingeskryf het om bietjie blootstelling te kry, het tot hul groot verbasing al die ander skole in die Oos-Kaap in die goud-kategorie in die Mintek-wetenskapkompetisie vir skole geklop.
Dit is op 10 Mei by die NMMU gehou.
St Thomas en Sanctor was die enige twee skole van die noordelike gebiede wat deelgeneem het. Die drie deelnemers van St Thomas – die onderhoofmeisie Humairo Futaar, hoofmeisie Tazminne Jansen en Cornell Titus – sê hulle het nooit verwag om te wen nie.
“Ons het nie eintlik vir die kompetisie voorberei nie. Ons het dit net as ’n geleentheid beskou. Daarom was ons baie ontspanne, kon helder dink en mekaar ondersteun,” vertel hulle.
Nadat hulle die hoogste punte in die geskrewe toets behaal het, het hulle na die mondelinge vasvrae deurgedring om met die hoërskole St Andrews, Lawson Brown, St Matthews en Matipeti Sani te wedywer.
St Thomas se hoof, Christopher de Doncker, sê dat hy is baie trots op die leerlinge. Hy sê die geld wat hulle met die kompetisie gewen het, sal die skool baie help.
“Ek het ’n oproep gekry om te sê ons span het gewen. Ek was baie gelukkig en trots op ons leerlinge.
“Ons gaan die R1400 wat hulle gewen het, weer in die wetenskapdepartement belê. Ons wil toerusting en gassilinders vir die wetenskapklaskamer koop,” het De Doncker gesê.
Die wetenskaponderwyser, Regardo Jonus, sê alle eer vir die kompetisie hoort by die leerlinge. Hy sê hy het maar net gedoen wat hy gewoonlik doen en skryf hul sukses aan hul spanwerk toe.
“Die vrae wat in die kompetisie gevra is, is op die skoolsillabus gegrond. Ons het regtig niks spesiaals ter voorbereiding van die kompetisie gedoen nie. Dit was die span se goeie verstandhouding wat ons ’n hupstoot gegee het.
“Hulle het mekaar vertrou en ondersteun. As een van hulle geglo het hulle ken die antwoord, het die ander hul vertroue daarin geplaas. Dít is wat op die ou end gewerk het.”

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.