Sportgesin laat hul geld


DIE Clarke-gesin dra hul naam hoog op elke sportveld waar hul skoene tot dusver spore getrap het.


Peter Clarke, 78, ’n talentvolle en inspirerende man, het sy passie vir rugby en krieket aan al vyf sy seuns oorgedra.


Apartheid het Peter en sy vrou van 55 jaar, Trudy, presies 52 jaar gelede gedwing om van hul huis in Korsten te trek na die huis waar hulle vandag nog woon in Kobusstraat, Gelvandale.


Die egpaar is in dié tyd geseën met vyf seuns – Mervin, Neil, Hilton, Geoffry en Garfield. Hulle het ook hul harte oopgemaak vir Peter se skoonsuster se twee dogters – Gillian en Charmel – wat hulle soos hul eie grootgemaak het.


Nege kleinkinders het intussen die Clarke-gesin verder vergroot!


Clarke sê hy was nog altyd passievol oor sport en gelukkig deel sy kinders dieselfde passie.


"Ek was nog altyd baie lief vir sport, veral krieket en rugby. Ek het vir agt verskillende krieketspanne gespeel. Een daarvan was die OP-krieketspan in die jare sewentig. Ek was ook 16 jaar-lank ’n sportverslaggewer vir The Herald.


"My seuns is ook baie lief vir sport, maar verkies sokker bo alle ander sportsoorte. Neil het vir ’n professionele span, Giya Spurs, in 1988 en 1989 gespeel. My ander seun, Hilton, was in ’n groot ongeluk op pad terug van ’n sokkerwedstryd in Mthatha. Dit wys hoe sport deel van ons lewens geword het,” het Clarke gesê.


Clarke, wat vir die grootste deel van sy lewe in die Noordelike Gebiede gewoon het, het al die veranderings van ’n halwe eeu in die gebied deurgemaak.


"Die Noordelike Gebiede is nog altyd afgeskeep. Pleks van skole en biblioteke te ontwikkel, is sjebeens en dwelmhuise opgerig.


"Maar gelukkig is daar ook baie wat goed en positief is in die gebied. Ek was en is nog steeds gelukkig om deel van hierdie gemeenskap te wees,” het Clarke gesê.



subscribe