Spangees is Ebenezer se doepa

EBENEZER se sokkerklub het seker gemaak hul naam is weer op die tonge van sokkertoeskouers toe hulle vandeesmaand die derde keer die Saints-toernooi gewen het. Vanjaar was dit die onder 15-span se beurt.


Die Saints se juniortoernooi is een van die grootste in die Noordelike Gebiede.


Ebenezer is in 2001 gestig en is nou die klub met die meeste sokkerspelers in die Baai. Dit spog met meer as 150 spelers en spanne van onder 9 tot onder 17.


Ebenezer se onder 15-afrigter en die afrigter van die toernooi, Jermyn Leander, sê die verskil tussen sy span en die ander is hul spangees .


"Ons span se spelers het geglo hulle kan die toernooi wen. Baie van my spelers het nog nooit 'n groot toernooi gewen nie. Ek was baie bly met die gees en geloof wat hulle in hulself gehad het," het Leander gesê.


Die klub oefen twee keer 'n week in Varsvlei en ten spyte van die klub se armoedige omstandighede, is hulle net dankbaar dat hulle is waar hulle is.


Leander sê hul eindronde teen Glenville was baie intens en het die aandag van al die ondersteuners getrek.


"Toe ons wedstryd begin, het al die ondersteuners van die ander velde na ons veld gestroom. Hulle het geweet dit gaan 'n goeie wedstryd wees en ons het hulle nie teleurgestel nie.


"Ons opposisie het binne die eerste drie minute 'n doel geskop. Van toe af was ons span die hele tyd onder druk. Ons span het net geweier om tou op te gooi. Charl Reid, die speler van die toernooi, het 'n strafdoel geskop om ons op die telbord te sit.


"Die telling het dieselfde gebly tot aan die einde. Die wenner moes toe met 'n reeks doelskoppe bepaal word. Ons het vyf teen Glenville se vier doele gekry. Dit het gesorg dat ons die titel van die kampioene van 2012 se Saints-toernooi huis toe kon neem," het Leander gesê.

subscribe