Sokker- en ander talent in dié straat

HELENVALE se Fitchardstraat het van 28 September gewemel van die mense, gelok deur die jaarlikse straatsokkertoernooi wat tot 5 Oktober gehou is.
Altesaam 16 van die 32 spanne wat aan die eerste ronde deelgeneem het, sal in Desember vir die titel en ‘n geheime prys meeding.
Dié toernooi, wat Helenvale se Jeuguitbreidingsprojek (HJUP) op die been gebring het om werklose jeug se energie in iets positief te kanaliseer, bring ‘n feestelike atmosfeer met ander trekpleisters soos motiveringsprekers.
HJUP het ses jaar gelede met die jeug begin werk om iets aan probleme soos misdaad en dwelms te doen.
Pastoor Samuel Davis van die HJUP sê die toernooi is bedink om gemoedere tussen twee wedywerende groepe wat om gebied baklei het, te kalmeer.
“Die twee groepe is nou rustig as gevolg van hierdie toernooi.
“Vanjaar was die toernooi weereens ‘n groot sukses ondanks ons baie uitdagings soos ‘n gebrek aan befondsing. Hopelik sal ons iewers genoeg ondersteuning kry om die volgende ronde in Desember te kan aanbied,” het Davis gesê.
Die spanne van Gelvandale, Schauderville en Missionvale het vir groot vermaak gesorg, het een van die toeskouers, Minky Olifant van Helenvale, gesê.
“Die strate was vol mense en daar was elke dag iets om na uit te sien. Die spelers is baie talentvol en van hulle is ook baie handsome. Elke jaar is ‘n verbetering op die vorige en ek kan nie wag vir Desember wanneer die finaal gespeel word nie,” het Olifant gesê.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.