Sokker-droom word waar


"OM jou grootste droom te sien waar word, is iets waarvoor ek nie woorde het nie.”


Só het Rushane Malgas, 13, gesê pas ná hy terug van Engeland van die vliegtuig afgeklim het. Dié inwoner van Hillside se droom om sy sokkerhelde, Manchester United, op die veld te kan ondersteun, is deur die Reach for a Dream-inisiatief bewaarheid toe hy sy span in hul wedstryd teen Everton kon aanmoedig.


Rushane ly aan lupus nephritis – ’n siekte wat skade aan die niere en ander organe veroorsaak. Dié leerling in Graad 8 van Linkside laat nie toe dat sy siekte hom onderkry nie.


Rushane sê al waaroor hy en sy broer Sergio, 20, kon praat, was of hulle ooit so gelukkig sal wees om ’n sokkerwedstryd by Old Trafford te kan gaan kyk.


"Toe ek die oproep kry om te sê ek gaan my droom bewaarheid, het ek in trane van opgewondenheid uitgebars.”


Rushane en Sergio het op 19 April Johannesburg toe gevlieg en vandaar direk Engeland toe. Hulle het daarna vier dae lank by Phil Humpreys van Coca-Cola Sabco en sy ouers gekuier voor hulle weer terug Suid-Afrika toe gevlieg het.


Vir Rushane was die gees wat by die stadion geheers het, iets wat hy nog nooit beleef het nie.


"Dit lyk presies soos dit op die TV lyk, maar daardie atmosfeer is iets wat nooit op TV vasgevang kan word nie.


"Die oomblik toe ek in die stadion inloop en die ondersteuners hoor sing, was ek so dankbaar dat ek hierdie kans gekry het.


"Ek en my broer het tussen die VIP’s gesit. Die man wat die gaste daar verwelkom het , het my spesiaal kom verwelkom. Ek wou ’n opwindende wedstryd met baie goals sien en ek het – daar is agt doele geskop.”


Hy sê hy is baie dankbaar teenoor Reach for a Dream en Coca-Cola Sabco, wat die toer wat R23000 gekos het, geborg het. Maar dit is veral die Humpreys wat sy toer onvergeetlik gemaak het, sê hy


"Hulle het uit hul pad gegaan om vir my en my broer Engeland te wys.”


subscribe