So kweek skool leiers


ONDERWYSERS by Gelvandale Park Primêre Skool is nie net daar om kinders boekgeleerdheid te gee nie. Hulle wil ook ’n verantwoordelikheidsbesef vir ander by hulle kweek.


Die leiers van hul leerlinge in Graad 7 het die voortou geneem. Die leerlingraadslede het dié maand meer as 150 sagte speelgoed en R2000 se lekkers en skyfies aan die kinders van Algoa Frail Care (AFC) oorhandig.


Elain Frans, sameroeper van die leerlingraad, sê die skool het verkies om 38 leerlinge vir die leerlingraad eerder as ’n kleiner groepie te kies.


"Ons het gevind die kinders is meer doeltreffend in hul pligte wanneer hulle voel hulle is belangrik vir die skool.


"Die idee is om nie die leerlingraad polisieman te laat speel soos die skoolprefekte van ouds nie. Ons wil hê hulle moet saam met die onderwysers werk om ’n veilige omgewing in die skool te skep.”


Die leerlingraad is ook deel van ’n uitreikingsprogram waarin hulle verskillende liefdadigheidsorganisasies help.


Verlede kwartaal het hulle die blinde kinders van Nkosinati na Holmeleigh Farm toe gevat en nou is dit die kinders van AFC se beurt.


"Ons probeer ons kinders leer om vir hul gemeenskap om te gee. As hulle ander mense se nood sien, help dit hulle om nie jammer vir hulself te voel nie.


"Ons het van AFC van een van ons onderwysers, Gavin Kettledas, gehoor.”


Frans het toe vir Charmaine Potgieter, voorsitter van Schaeffler SA se uitreikingsprogram Rainbow Nation-klub, vir ’n donasie gevra.


"’n Week daarna het sy geantwoord om te sê hulle sal R2000 gee,” sê Frans.


"Ons het dit as ’n goeie geleentheid gesien om die skool te help om die gemeenskap te help,” sê Potgieter.


Die leerlingraad wil volgende kwartaal meer aandag aan die Gelvandale Frail Care Centre gee, sê Frans.

subscribe