Smaaklike vleisgereg in 'n kits


SOOS die meeste gesinne maak die Slabberts graag kos, maar die tyd of die krag daarvoor ontbreek dikwels.


'n Inwoner van Aspen Heights, Natalie Slabbert, sê haar ma, Eileen, het haar 'n vinnige en smaaklike oplossing hiervoor gegee.


Slabbert sê haar pa, Graham, wil elke dag vleis eet.


"My pa wou elke dag vleis eet, maar my ma wou seker maak dat ons kinders elke dag ook groente inkry.


"Sy het in die kombuis begin rondspeel en haar resep vir varkmaag is een van die resultate daarvan.


"Ons het gewoonlik nie tyd om baie kos te kook nie, maar ons is 'n groot familie. Dié resep is ideaal want dit is genoeg vir omtrent vyf mense," sê Slabbert.


Sy sê die gereg is altyd 'n gunstelling by die Slabberts wanneer hulle braai of by familiebyeenkomste.


"Net soos die meeste ander families in die Noordelike Gebiede, eet ons baie saam as 'n familie. Die gereg het my nog nooit teleurgestel nie.


"As iemand daarvan skep, eet hulle hul bord leeg. Die beste van alles is dat dit slegs 20 minute neem om te maak.


"Wanneer ek by huis kom ná 'n lang dag en nie krag het om kos te kook nie, maak ek gou 'n varkmaag gaar en gaan slaap. Wanneer my gesin by die huis kom, kan ek opskep."


Bestanddele:


500g skulpie-noedels;


2 pakkies Knorr-pastasous;


500g varkvleis in blokkies gesny;


2 uie gekap;


1 bossie spinasie gekap en


1 groen soetrissie gekap


Metode:


Kook noedels tot dit gaar is. Braai die varkvleis apart tot dit gaar en goudbruin is. Soteer die uie en soetrissie. Voeg dan die gekapte spinasie by die mengsel en soteer tot net sag. Voeg dan die gaar varkvleis by en meng. Maak die pastasous volgens die aanwysings op die pakkie en voeg by. Meng alles saam en geniet.


subscribe