Skool leer liefde wys

Tremaine van Aardt


'n KASTIGE doktersafspraak het vir 'n seun van Rowallanpark in 'n onvergeetlike dag verander toe hy 'n splinternuwe Mongoose BMX fiets en boonop nog R2400 se fietstoerusting persent gekry het.


Reece Farmer, 'n 10-jarige Graad 5-leerling aan die Laerskool St Joseph, het sy onverwagte geskenk te danke aan die Reik na 'n Droom-stigting en die leerlinge van die Laerskool Greenwood.


Greenwood het binne twee weke R15000 ingesamel om Reece en ook ander kinders se drome te help bewaarheid.


Reece ly aan tipe 1-diabetes.


"My ma het gesê sy laai my op om dokter toe te gaan. Toe ek weer sien, is ons hier. Dit was 'n yslike skok. Ek voel so spesiaal. Dit het die hele dag net oor my gegaan."


Sy pa, Lee Farmer, sê mense besef selde hoe ernstig diabetes is, veral wanneer iemand so jonk soos Reece is.


"Dis moeilik vir 'n kind. Hy durf nie lekkers of sjokolade eet nie maar hy kan nie verstaan hoekom nie. Hy kry drie tot vier insulieninspuitings daagliks. Maar dinge soos dié gee hom krag om elke dag te veg."


Inge Human, takbestuurder van Reik na 'n Droom, sê Greenwood se kinders kan Port Elizabeth leer hoe om te deel.


Die BMX, gedeeltelik geborg deur die Augustynbroers se fietswinkel, is net een van die geskenke wat deur die skool uitgedeel is, sê Geenwood departementshoof Jackie Barnardo.


"Ons het verlede jaar met die inisiatief begin. Die doel is om die kinders die betekenis van liefde te leer. Ons het al die leerlinge, gevra om elkeen R10 te skenk. Ons het soveel geld ingesamel dat elke graad 'n droom kon laat waar word.


subscribe