Skilder glo kuns kan ander ook help ophef


MICHAEL BARRY is ’n naam wat al die hele wêreld vol in die kunskringe getoer het. Barry se kuns is die rede waarom dié talentvolle skilder is waar hy vandag is. Hy wil nou dieselfde geleentheid aan die jeug van die noordelike gebiede gee om vooruit te kom in die lewe.


Hy is deesdae verbonde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se departement van kuns en kultuur. Hy het ’n honneursgraad in kuns aan die Universitiet van Kaapstad behaal en is toe terug Parkside toe waar hy as kunsonderwyser by St Thomas in 1986 aangestel is.


Barry sê kuns was nog altyd deel van sy lewe, maar hy moes harde bene daarvoor kou.


"Ek moes as ’n keteloppasser op die bote van Safmarine werk om geld te kry om te studeer. Dit was harde werk, maar ek sou enigiets doen vir kuns,” sê Barry.


Barry se skilderye reis deesdae die wêreld vol waar dit onder meer in galerye in Londen en die VSA vertoon word saam met ander bekende kunstenaars – onder meer George Pemba wat ook sy wortels in die Baai gehad het.


Barry is ook by gemeenskapsprojekte betrokke soos die Northern Areas People’s Development Initiative (Napdi) en die kunsonderwysersinisiatief.


Hy sê hy fokus nou op die noordelike gebiede se geskiedenis-enerfenisprojek. Dit boekstaaf wat in die oproer in 1990 in die noordelike gebiede gebeur het. Hulle wil ook ’n kunsonderwyser by St Thomas Hoërskool aangestel kry.


"Kunstenaars in die noordelike gebiede vind dit baie moeilik om erkenning vir hul werk te kry. Daar is ook baie kunstalent hier.


"Ons het die geriewe by St Thomas. Daar is ’n ten volle toegeruste kunskamer by die skool – al wat ons nodig het, is ’n kunsonderwyser wat deur die staat betaal moet word.”


"Maar die onderwysdepartement wil nie die inisiatief neem om iemand aan te stel nie. Ons kan die gemeenskap ophef deur kuns of liewers deur die psigologie van kuns,” sê Barry.


Maar die pa van een seun, Mikale, wat al 30 jaar met Merilyn getroud is, se talente strek veel verder as skilder.


Musiek is ook in sy bloed – hy was op sy dag die baskitaarspeler vir die Vlakkies Blues Band en sanggroep wat in die jare negentig prominent was.

subscribe