Prettige oase uit vullis

Tremaine van Aardt


'n EGPAAR van Rowallanpark het 'n vullisterrein in 'n klein " Happy Valley" omskep en daardeur die lewens van 20 inwoners van die informele nedersetting, Lambrecht, verander.


Andreas en Rene Strydom sê die idee om Kabegapark se stortingsterrein 'n nuwe baadjie te gee, het begin by Andreas se voortdurende "geneul" vir 'n groter tuin.


Die twee het die munisipaliteit omgepraat om 'n skeidsmuur om die terrein te bou sodat hulle die hope afval wat daar opgehoop het, kan uitsorteer.


Drie maande later het albei hul werke opgegee en hul lewens daaraan begin wy om afval te herwin. Hulle onderhou hulself en hul 20 werknemers hierdeur. Wanneer die afval gesorteer is, word daarvan aan herwinningsondernemings verkoop. Die res word gebruik om hul plek mooi te maak.


Besoekers aan die terrein word nou verwelkom deur 'n interessante en oorspronklike tuin wat die Strydoms en hul werknemers uit weggooigoed geskep het.


"Party van ons werknemers het net buite die terrein gewerk waar hulle verkoop het wat hulle kon bymekaarskraap uit die vullis. Ons het die geleentheid raakgesien om hulle te help en terselfdertyd iets te doen wat ons geniet.


"Hulle verdien nou 'n vaste inkomste. Hulle is almal toegewyde, harde werkers wat hul werk geniet."


'n Inwonder van Rowallanpark, Niel Terblanche, sê: "Voor die skoonmaak, was die vullisterrein 'n gesondheidsgevaar. Die droë gras daarin het soms die vullis aan die brand laat slaan, wat die lug met onaangename reuke besoedel het.Deesdae het dit 'n plesier geword om jou afval te kom weggooi.Ek is altyd nuuskierig om te sien wat nuut in die tuin is. Ek skei nou selfs my vullis in aparte sakke vir plastiek, glas, karton en so aan."


Seun Goode, wat in die tuin werk, sê dit is vir hom 'n geleentheid om die lewe vir hom en sy gesin te verbeter.


"Herwinning is ons doel hier, en het nou 'n leefwyse vir ons almal hier geword. Ek het nou 'n salaris en kan vir my gesin voorsien."

subscribe