Paterson is geletterdste


DIE Hoërskool Paterson het as wenners uit die stryd getree op St. Thomas se geletterheidsdag toe 'n Graad 9leerling, Nolitha Dingana, 15, as kampioen in die spelwedstryd aangewys is.


Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) het die dag geborg waarop vyf skole van die Noordelike Gebiede en een van Uitenhage met mekaar meegeding het.


Die kompetisie is op die Amerikaanse spelwedstryde gegrond.


Nolitha sê dit was haar eerste kompetisie en sy het nooit kon droom dat sy so goed sou vaar nie.


"Dit was 'n groot verrassing toe ek gewen het. Engels is een van my gunsteling-vakke. Voor die kompetisie het ek baie meer koerante gelees en woorde wat ek nie kon spel nie, neergeskryf en geleer.


"Hulle het woorde uit 'n hoed getrek en vir ons gevra om dit te spel. Dit was groot pret. Daar was nie baie moeilike woorde nie. Ek sal niks wil verander nie. Ek het gewen ... vir meer kon ek nie gevra het nie."


Ná die spelwedstryd het gemengde spanne aan 'n vasvra deelgeneem om hul kennis oor boeke te toets. Die leerlinge wat die kompetisies gewen het, het boeke en skryfbehoeftes ontvang.


Die hoof van die Hoërskool Paterson, dr. Siven Pillay, sê die kompetisie is goeie oefening.


"Die Graad 8-leerlinge wat van verskillende skole by ons kom, is dikwels baie swak wat geletterdheid betref. Die NMMU se geletterheidsgroep help ons om hulle vir die res van hul hoërskoolloopbaan voor te berei."

subscribe