Oud-leerlinge spring in vir skoo

DIE Old Patersonians, ’n klub van oud-leerlinge van die Hoërskool Paterson, het reeds gesorg vir ’n rugbyveld wat oor die R22000 gekos het en werk nou daaraan om ook die krieketnette en netbalbaan te herstel. Daarna sal ’n nuwe omheining opgerig word om hul belegging te beskerm.
Oud-leerling en mediaskakel vir Paterson, Stan Uithaler, sê: “Ons skool was ’n monument van voortreflikheid op akademiese en sportgebied. Ons wil graag sien dat vandag se leerlinge dieselfde geleentheid kry.
“Voor ons begin het, was die velde so vol klippe en die gras so lank dat dit vir geen sport gebruik kon word nie. Hoe kan ons verwag dat die kinders hulself moet verbeter as hulle nie eers kan oefen nie?” vra Uithaler .
Die nuwe omheining sal hulle R57000 kos, die krieketnette ongeveer R6000 en om die netbalbane te teer, R60000. Dit beteken sowat R145000 sal eers ingesamel moet word voor die projek afgehandel kan word.
Uithaler sê hulle beplan ’n gala-aand om ’n Mnr en Mev Paterson te kies en ’n motorfietsbyeenkoms in September met die die hulp van Gerald de Jager.
“Maar ons het die ondersteuning van al die oud-leerlinge nodig om te help.”
Paterson se hoof, Dr. Sivan Pillay, sê hulle is dankbaar.
“Die nuwe veld word reeds vir rugbywedstryde gebruik en die breër gemeenskap baat ook daarby. Ander skole hier naby gebruik ook die velde. Namens die skool sê ek dankie vir die Old Patersonians-klub. Hulle doen werklik uitstekende werk vir ons skool,” sê Pillay.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.