Oos, wes Gelvandale bes


DIE Tifloens kan as een van die stigtersfamilies van die Noordelike Gebiede beskou word. Moegamatzane (Gampie) Tifloen, 78, het seker gemaak hy kry 'n huis deur aansoek te doen om in te trek in een van die eerste blok huise in Gelvandale in 1960.


Gampie en sy vrou, Faheema, 70, wat nou al 55 jaar getroud is, het Gelvandale toe getrek toe die Groepsgebiedewet maar net 'n "gerug" was.


"Ons is oorspronklik van Suideinde. Toe ons van die Groepsgebiedewet hoor, het ons besluit om so gou as moontlik te trek. Ons is nou die laaste getroude paar van die oorspronklike intrekkers wat nog leef. Daar was niks buiten bosse in die Noordelike Gebiede toe ons ingetrek het nie. Die enigste strate was Beetlestone- en Springbokstraat," sê Gampie.


Dit was net hulle twee toe hulle ingetrek het, maar die Tifloens het intussen gegroei om vier kinders, 11 kleinkinders en ses agterkleinkinders in te sluit.


Gampie, sy swaer en 'n vriend het self aan die huis 35 jaar gelede aangebou.


"My vrou het alles binne ontwerp. Hierdie huis is deel van ons en ons geskiedenis. Ons sal eers hier uittrek wanneer ons Papenkuil toe uitgedra word."


Gampie, wat 'n hartaanval oorleef het, het Faheema na Maleisië en Singapoer geneem toe hulle 50 jaar getroud was, maar hulle stem saam daar is geen ander plek soos Gelvandale nie.

subscribe