Ontwikkeling nou op dreef


NÁ 'n stilstand van bykans vyf jaar, word daar uiteindelik vordering op die oop stuk grond in Dijonweg, Lorraine gemaak.


Shield Homes het begin om 29 nuwe huise te bou vir die nuwe meenthuis-ontwikkeling, Applewood Gardens.


Shield se besturende direkteur, Jonathan Baines, het gesê die projek het in Julie afgeskop en hulle hoop om die eerste fase teen die einde van dié jaar en die tweede fase teen Februarie klaar te hê.


"Elke eenheid is 72m² groot, het twee slaapkamers en 'n enkel motorhuis asook 'n private tuin," het Baines gesê.


Volgens hom is al die huise reeds verkoop en het tussen R495000 en R535000 gekos.


Wyk 8 se raadslid, Gustav Rautenbach, het gesê inwoners kla al van 2009 oor die stuk grond omdat dit so toegegroei was.


"Baie mense het onwettig daar rommel gestrooi en dit het groot probleme veroorsaak.


"Daar is ook gereeld vieslike woorde op die muur geskryf. Dit sal nou ook hopelik tot end kry."


Hy het gesê hy is baie bly daar is nou uiteindelik met die ontwikkeling begin.


Hy het bygevoeg hy het klagtes van inwoners ontvang oor water wat by die straat afloop. Daar is vasgestel dit kom van die pomp wat gebruik word om water vir die ontwikkeling te voorsien.


"Ek het met die ontwikkelaar gepraat en hy het die munisipaliteit betrek om die probleem te help oplos. Dit is hopelik nou opgelos," het Rautenbach gesê.


Baines het gesê die probleem is reeds vroeër vandeesweek opgelos.


subscribe