Ontwerp kan water spaar

'n KUNSTENAAR van Sunridgepark wat sy kreatiwiteit prakties ingespan het met 'n ontwerp om water te bespaar, kan R7000 ryker wees indien hy die landwye kompetisie waarvoor hy sy ontwerp ingeskryf het, wen.

Ryan Allan, 25, is een van 16 finaliste uit 200 inskrywings landwyd wat gekies is vir 'n kompetisie wat die nie-winsgewende organisasie Shift georganiseer het.

Hulle wil met die kompetisie Suid-Afrikaners bewus maak van die rol wat ontwerpe kan speel om praktiese en volhoubare oplossings te vind vir alledaagse uitdagings.

Allan sê hy hoop om ander jong mense wat in dieselfde dinge as hy belangstel, deur die kompetisie te leer ken.

Sy wen-ontwerp is 'n stelsel wat die daaglikse gebruikte water (gryswater) van huishoudings vir hergebruik in die tuin kan suiwer.

Daarvolgens word gryswater in 'n tenk herlei deur 'n toestel wat die olie en vetterigheid opvang en die meeste van die vastestowwe uit die water filtreer.

Die gesuiwerde water wat oorbly vloei in 'n paar biesiebeddings waar plante en mikrobes alle oortollighede en chemikalieë in die water neutraliseer en dit lug gee. Vandaar kan dit in die tuin herlei word, het hy gesê.

"Ek het nog nie die water getoets nie, maar dit is iets wat ek in die komende twee maande sal doen om my prototipe verder te ontwikkel.

"Dit is baie belangrik dat die toetse gedoen moet word om seker te maak watter plante die geskikste sal wees om vir die suiweringsbeddings te kies. Dit moet die oortollighede en metale – indien teenwoordig in die water – opneem."

Hy het bygevoeg die hoeveelheid gryswater wat deur die stelsel loop en waar die water vandaan kom, sal bepaal hoe lank die proses sal neem.

Elke stelsel sal verskil om aan te pas by die uitleg van die eiendom en hoe die pype van die huishouding gelê is.

Wat hoofsaaklik nodig is, is 'n paar houers wat in biesiebeddings van gruis omskep kan word, 'n verskeidenheid riete en biesies en 'n houer om die geprosesseerde water in op te vang.

Al wat moeilikheid kan veroorsaak, is wanneer die uitlooppype van die huis reg op grondvlak is. In so 'n geval, sal dit miskien 'n pomp vereis of uitgrawings om die houers op geskikter vlakke te kry.

Hy sê hy hoop om later werksessies te kan hou waar hy ander mense wat belangstel, kan wys hoe om hul eie herwinningstelsels vir gryswater te kan bou.

"As ek eers die ontwerp presies kan laat werk soos dit behoort te werk, sal ek eerder my vaardighede met ander wil deel as om bloot die stelsel vir mense te installeer," het Allan gesê.

Die 16 finaliste se prototipes sal aanstaande jaar landwyd uitgestal word voor Shift dit na Swede sal neem vir hul uitstalling daar.

Die 16 finaliste sal in Februarie tot drie finaliste verfyn word.

Die wenner sal met prysgeld van R7000 beloon word.

subscribe