Nuwe skool hul trots


NA 12 jaar se gesukkel kry die Laerskool Rufane Donkin in Gelvandale eindelik hulle nuwe skoolgebou.

Die gebou word deur dieselfde gemeenskap herbou wat dit afgebreek het.

Nico Lottering, wat al 17 jaar skoolhoof is, sê: "Dit het alles begin toe die munsipaliteit die grond agter die skool toegewys het aan Malabaruitbreiding vyf en ses.


"In dieselfde tyd het ons omheining omgeval en al die nuwe intrekkers het begin om stukke van die heining te steel om vir hulle huise te gebruik. Na die hele omheining weggedra is, was die gemeenskap vry om in en uit die skoolgrond te loop en te steel.


"Hulle het alles – van toilete, deure tot koperpype gevat. Duisende rande van die skool se toerusting is gesteel. My onderwysers en ek het self probeer om die skool te beveilig met veiligheidshekke maar dit het nie gewerk nie.”


Terwyl die vandalisme aan die gang was, het Lottering voortdurend met amptenare van die onderwysdepartement, publieke werke en raadslede onderhandel. Hy het tot President Zuma se kantoor gebel vir hulp.


Maar dit was eers verlede jaar na ’ n groep van 30 politici, onderwys- en staatsamptenare die skool kom besoek het dat die nood van die skool raakgesien is en die owerhede iets daaraan begin doen het.


Lottering sê die onderwysdepartement het waarlik hul kant begin bring.


"Die departement het van verlede jaar regtig begin help. Nou is hulle druk besig om te bou en alles reg te maak.


"Die nuwe skoolgebou gaan baie meer bied soos ’n nuwe saal, meer klaskamers, ’n administratiewe lokaal, rekenaarkamer en beter en meer fasiliteite. Die skool sal nou vir 800 leerlinge voorsiening kan maak. Daar is nou net plek vir 450.


"Mense kom nou van oral om hulle kinders vir volgende jaar in te skryf. Ek en my pesoneel is baie opgewonde dat al ons gesukkel nou vrugte afwerp,” het Lottering gesê.


Hy het ook gesê 60% van die gemeenskap is deel van die span wat die nuwe skool help bou. Hy meen dit sal help om die nuwe skool te beskerm, want hulle is trots op hul eie harde werk wat gesorg het dat die skool tot stand kon kom.

subscribe