Nuwe hoof ou bekende

Francois van Mazijk


Die Laerskool Kabega wat in 1963 as parallelmediumskool in die lewe geroep is, het verlede jaar Februarie met 'n leerlingtal van 857 gespog. Die Laerskool Kabega is vernoem na die voorstad waarin dit geleë is. Die skoolwapen is die skepping van Eric Simpson.


Die skoolwapen simboliseer geleerdheid, ambisie, lewens- kragtigheid, groei, hoop, toekomsverwagting, wysheid, kennis en die interverhouding tussen die kind, ouers en onderwysers.


Die skool se onderhoof, Patrick Sharp, neem van vanjaar die leisels oor as hoof van die skool. Hy kom uit 'n onderwysfamilie van Port Elizabeth, waar hy gebore is.


"Ek was 'n leerling in my pa se klas en altwee my kinders, wat nou in die hoërskool is, was in skole waar ek onderwyser was."


Sy eerste onderwyspos was by Rowallanpark, waar hy in 1981 begin het. Hy het sy opleiding aan UPE – nou bekend as NMMU – ontvang. Hy het wiskunde en LO as vakke aangebied.


Daarna is hy Jeffreysbaai toe om 'n bevorderingspos as departementshoof te aanvaar.


Hy het eers 'n draai by die Laerskool Sunlands in die Sondagsriviervallei gemaak voor hy in 1995 weer teruggekom het Baai toe waar hy as departementshoof by die Laerskool Newtonpark aangestel is.


Vandaar is hy na die Laerskool Kabega waar hy as onderhoof aangestel is.


"My doelstelling vir die skool is om vir die kinders van die omliggende gemeenskap die beste moontlike onderrig te gee.


"Gelukkig het die skool baie goeie onderwysers en ontvang ook ondersteuning van die ouers."


"Om die hoof van 'n skool te wees, is deesdae baie meer uitdagend. 'n Mens kan nie net by die kantoor opdaag en 'n rustige dag verwag nie. 'n Mens moet voorbereid wees vir enigiets en bereid wees om meer te doen as wat van jou verwag word.


"Die Laerskool Kabega beskik oor talle moderne geriewe. Doeltreffende gebruik hiervan aan die hand van wetenskaplik-gefundeerde onderrigmetodes en tegnieke stel die kind in staat om enersyds sy potensiaal te ontdek en te realiseer en andersyds stel dit die leerkrag in staat om die kind in sy totaliteit voor te berei en op te voed vir die toekoms.


"Gevolglik word hoë, maar realistiese akademiese eise ten opsigte van standaarde en leerlingvordering gestel. Tesame hiermee word daarna gestreef om die handhawing van Christelik-aanvaarde morele standaarde en geestelike weerbaarheid as lewenstoerustingsmiddele uit te bou," het Sharp gesê.


subscribe