NMMU gee leerlinge ‘hupstoot’

‘n PROJEK wat begin is om studente by die NMMU praktiese ervaring te gee, bevoordeel deesdae terselfdertyd ‘n hele paar minderbevoorregte skole.
Die departement van menslike bewegingswetenskap (MBW) se ‘PasSport to Health’-projek wat ‘n aktiewe lewensstyl in minderbevoorregte skole bevorder, is deur ‘n lektrise by NMMU, Cheryl Walters, begin om MBW-studente in hul finale jaar wat in sportadministrasies spesialiseer, ‘n kans te gee om hul teoretiese werk prakties toe te pas.
“Ek laat hulle voorleggings doen oor hoe om geld in te samel om die skole te help. Hulle moet narvorsing doen en uitvind wat die skool nodig het om ‘n aktiewe lewensstyl by die kinders te bevorder. Daarna moet hulle ‘n plan opstel oor hoe die skole betrek kan word,” sê Walters.
Drie skole – die Hoërskool St James in Schauderville, die Hoërskool Nkululeko in KwaNobuhle en die Hoërskool Woolhope in Malabar – is vir die projek gekies.
“Ons navorsing by die Hoërskool Woolhope het byvoorbeeld gewys hoewel die skool groot sportvelde het, die meeste van die leerlinge, veral die meisies, nie aan sport deelneem nie,” sê Walters.
Met R10000 wat die leerlinge ingesamel het, het hulle ‘n musieksentrum en toerusting vir die gimnasium gekoop en ‘n opelug-hindernisbaan opgerig.
“Ons gaan ‘n fiksheidsklub vir vroue begin. Van ons studente sal bepaal of die kinders oorgewig is en hulle dan wys hoe om hul lewensstyl te verander. Opvoeding is nie opvoeding as liggaamsopvoeding nie deel daarvan uitmaak nie.”
Die onderhoof van die Hoërskool Woolhope, Richard Jaran, sê hy hoop dit is die eerste stap om liggaamsopvoeding weer deel van die skool se leerplan te maak.
“In die verlede het van ons grootste sportname uit Woolhope gekom: mense soos die rugbyspeler, Mzwandile Stick, en Haroon Lorgat, wat in die Internasionale Krieketraad gedien het. Ek hoop om weer name van ons skool in die land- en wêreldsport van die toekoms te sien,” het Jaran gesê.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.