Nartjiefees 21 jaar oud

EEN van die gewildste feeste in die Oos-Kaap, Loerie se Nartjiefees, word op 29 September op die dorp gehou.
Die fees, wat vanjaar 21 jaar oud is, is op die hele gesin gerig. Dit vind slegs 60km vanaf Port Elizabeth in die Gamtoosvallei plaas en is net die ding om die vakansie mee te begin.
Theuns Jordaan is vanjaar die hoofkunstenaar by die fees. Sy jongste CD, Roeper, wat in Mei uitgereik is, het binne drie maande platinum-status bereik. Daar is reeds 89000 eenhede hiervan verkoop. Hy het pas die miljoenmerk met vier van sy CD’s oorskry. Hy is by die fees beskikbaar om CD’s te teken.
Andriëtte Norman, voormalige Idols-finalis en bekende by Skouspel, sal ook op die Nartjiefeesverhoog wees. Haar album, Vat My Hoër, het in verlede jaar Huisgenoot se Tempo-toekenning vir beste kontemporêre album ontvang.
Manie Jackson, wat reeds met sy eerste album goue status verwerf het, gaan country, pop, ballades en dansnommers opdis.
Jennifer Zamudio wat ook optree, is al bestempel as een van die ” stylvolste” vroulike kunstenaars en ook “die vrou met die ontwerperstem”. Sy is ook bekend as liedjieskrywer, seremoniemeester en televisie-veldaanbieder.
Plaaslike kunstenaars Gouwsie en Chezane gaan ook hul slag wys.
Daar word spesiaal vir die kinders by die fees voorsiening gemaak met Bester die Renoster wat op die verhoog gaan kom kuier. Daar is ook ‘n pretpark met springkastele en ‘n wedren vir vierwielmotorfietsies vir die kinders.
Vanjaar is daar ook meer kunsmarkstalletjies wat produkte van hoogstaande gehalte bied. Die groente- en nartjiestalletjies is ook ‘n groot trekpleister met vriendelike manne wat die groente en vrugte op kruiwaens tot by motors neem.
Héérlike eetgoed is by die kosstalletjies beskikbaar.
Die Mej Nartjiefeeskompetisie word deur Mould Model Academy aangebied. Meisies (in verskillende ouderdomsgroepe van 3 – 21 jaar) kan by die Nartjiefees om agtuur die oggend kom inskryf. Inskrywingsgeld beloop R50. Groot pryse is op die spel.
Feesgangers word gevra om hul eie opvoustoele saam te bring om na die kunstenaars te kom luister. Geen piekniekmandjies, alkohol of sambrele word op die terrein toegelaat nie. Toegangsgeld, wat die hele dag se vermaak insluit, beloop R50 vir volwassenes en R25 vir laerskoolkinders.
Interkaap verskaf vervoer van Port Elizabeth na die fees (retoer). Annemarie kan hieroor by (041)586 0750 gekontak word.
Daar is nog ‘n paar stalletjies (kos- en koeldrankstalletjies) vir die publiek beskikbaar. Enige navrae omtrent die Nartjiefees kan aan Amanda (042)287-0634 gerig word. Besoek ook die webwerf: www.nartjiefees.co.za vir meer inligting. Die Nartjiefees is ook op Facebook.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.