My Family


BY DIE huis kyk die Vencencie- kinders op na hul pa, Roderick, 'n vredesonderhandelaar by die Hoërskool Woolhope, vir leiding en hy sê hy kyk weer op na sy hemelse Vader vir krag om hulle te lei.


Oorspronklik van die nou, maar lewendige straatjies van Newtown, moes Roderick en sy vrou Natalie, met wie hy al 26 jaar getroud is, Springdale toe trek as gevolg van die Groepsgebiedewet.


Hy en Natalie, wat hy deur haar suster Jonelle ontmoet het, is geseën met twee kinders – Ryan, 25, wat nou 'n polisieman is, en Nadine, 21, 'n student in natuurbewaring by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se kampus op George.


Roderick sê hoewel hul kinders nie meer 'n dak met hulle deel nie, is hulle nog baie na aan mekaar.


"Ons kom baie bymekaar om te kuier en te gesels. Ons ondersteun mekaar so ver as moontlik.


"Maar ons sterkte kom van God. Hy is ons steunpilaar. Ons was nooit 'n baie ryk familie nie, maar ons is ryk in godsdiens, en dit het ons veilig tot hier toe gebring," het Roderick gesê.


In 2007 het 'n tragedie die Vencencie-familie getref toe sy broer, Winston, wat in die polisie was, vermoor is.


"My broer se moord het my familie swaar getref. My ma was nog nooit weer dieselfde nie. Maar die Here het ons daardeur gebring.


"Ons het elke dag saamgekom as 'n familie om te bid. Die Here het ons versterk en nader aan mekaar gebring. Daar is nie 'n dag wanneer ons nie aan hom dink nie. Maar ons weet hy is in 'n beter plek," het Vencencie gesê.


Daagliks sukkel meer en meer ouers in die Noordelike Gebiede om hul families bymekaar te hou. Roderick het sy eie geheim wat hy met ouers wil deel.


"Praat met mekaar, dit is so eenvoudig soos dit. Dit maak regtig 'n verskil in die verhouding wat jy met jou kinders het.


"Ons verhouding met ons kinders is baie oop, ons praat oor alles. Ons soek verskonings om bymekaar te kan wees en sorg dat ons soveel as moontlik saam doen, soos saam bid of eet.


"Ek kan dit ook nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om jou kinders te laat verstaan jy is lief vir hulle nie. Elke dag vir die laaste vier jaar bel ek vir Nadine net om vir haar te sê dat ek haar liefhet," het Roderick gesê.


Die Vencencies is ook baie betrokke by gemeenskapsprojekte soos die Gelvandale-aksiekomitee, die komitee van die Livingstone-hospitaal en die Springdale-vrouevereniging.


Roderick vra die inwoners van die Noordelike Gebiede om te help waar hulle kan.


"Die kerk begin wanneer jy by die gebou uitloop. Ons gemeenskap moet bymekaar kom en help as ons 'n verskil in die toekoms wil sien."


subscribe