Meisies wys hul kan kolf

DIE eerste ses-aan-'n-kanttoernooi vir meisieskrieket word morê by die Hoërskool Framesby gehou.


Die organiseerder is die meisieskrieket-afrigter en onderwyseres, Gerry Smith.


Smith sê hoewel daar nie pryse of wenners is nie, is die hele doel om meisies te motiveer om krieket te speel.


"Ons wil die sport graag onder meisies bevorder. Ons poog om dit 'n dag van pret te maak en om die meisies aan te moedig."


Smith sê dieselfde krieketreëls geld vir ses-aan-'n-kant, maar die meisies speel net agt boulbeurte. Elke meisie moet 'n beurt kry, maar mag nie meer as twee boulbeurte boul nie.


"Die enigste een wat nie 'n boulbeurt kry nie, is die paaltjiewagter," sê Smith.


Die kolfbeurt kan vroeër as agt boulbeurte eindig as al ses van die spelers uitgeboul is.


Smith sê wydloper- en foutballw tel as drie lopies vir die kolfspan, maar in die laaste boulbeurt is dit die gewone krieketreëls wat tel.


Smith sê hulle wou al lankal so 'n toernooi aanbied en hoop dat dit nou 'n jaarlikse instelling sal word.


Smith, wat al 22 jaar 'n onderwyseres by die skool is, rig die meisieskrieketspan vir die afgelope 13 jaar af.


Sy was al by die SA- en OP-skolekrieket betrokke en help ook graag met minikrieket.


Hoewel sy nooit krieket gespeel het nie, moes sy sorg dat sy al die reëls deeglik onder die knie kry.


Smith sê meisies in die Baai speel nou T20krieketwedstryde teen ander skole.


Dertien hoërskole – Cowan, Bethelsdorp, Mfesane, Chatty, Pearson, Douglas Mbopa, DF Malherbe (twee spanne), St Thomas, Framesby (twee spanne), Strelitzia, Linkside en Westering – neem deel.


Die dag begin om 11vm. op die B- en C-velde by die skool. Elke wedstryd behoort ongeveer een uur te duur.


subscribe