Londen was hulle PE

DIT het vir twee Baaienaars – Izak, 32, en Melissa, 29, van der Merwe van Westering – elk ‘n reis na die anderkant van die wêreld gekos om by mekaar uit te kom.
In die “kleine Port Elizabeth”, die stad waar hulle albei grootgeword het, het hul paaie nooit gekruis nie, maar eers toe albei in die groot wêreldstad Londen werk, het die twee mekaar ontmoet en besluit hulle hoort saam.
Met hul terugkeer na Suid-Afrika in 2004, is hulle getroud en kon hulle dadelik saam begin huis opsit in Westering, aangesien Izak die huis reeds voordat hy na Londen toe is, besit het.
Hy, Melissa en hul twee seuns – Wicus, 4, en Wihan, 10 maande – woon nog steeds in die huis wat hy destyds gekoop het toe hy maar 21 jaar oud was.
Melissa en Izak sê hul kinders is die spil waarom die huishouding draai. Wicus woon bedags die Galloopie-dagsorgsentrum in Westering by.
Izak en Wicus is groot ondersteuners van die OP Kings en gaan saam na hul wedstryde kyk. Izak spot dat Wicus heel moontlik eendag vir die Kings sal kan uitdraf as geesdrif ‘n maatstaf was.
Izak, die eienaar van Mr Gas, sê hy het in Westering grootgeword en by sy ouers gebly voor hy Londen toe is. Sy ouers woon nog in dieselfde huis in Westering.
Melissa werk as persoonlike assistent in die departement van menslike hulpbronne van African Hide Trading.
“Westering is die ideale plek om te bly omdat dit so na aan die winkels, dokters, apteke en die snelweg is,” sê Melissa.
Hulle is besig om ‘n swembad te bou en maak planne vir ‘n lapa waar hulle kan kuier.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.