Konsert verskaf hupstoot

BAIE van die minderbevoorregte skole in die Noordelike Gebiede is van ondernemings soos Fresh Look Events (FLE) afhanklik vir verbeterings.
Die Laerskool Bethvale in Chatty het nog nooit ‘n biblioteek gehad nie. Dunane Williams en Michelle Valentyn, direkteure van FLE, het ‘n fondsinsameling in die vorm van ‘n konsert gereël .
Williams en Valentyn het elk ‘n seun – Dillion, 9, en Michael, 10 – wat leerlinge by die skool is. As ouers het hulle gevoel lees maak ‘n baie belangrike deel van skoolgaan uit.
“Ons het gesien hoe in die nood die skool is. Vier maande later het ons die ‘Bethvale Benefit Concert’ in die Chatty-gemeenskapsaal gehou.
“Dit was ‘n groot sukses. Ons het omtrent R4200 ingesamel van ons doelwit van R70000. Daar was meer as 100 mense wat opgetree het soos Gino Lee, Afroteenz en Spektrum. Hulle het nie ‘n sent gevra om op te tree nie,” het Williams gesê.
Die FLE-span is nou besig om borge te kry vir alles wat nodig is om ‘n klaskamer vir die biblioteek reg te maak. Hulle kort nog verf, boeke en kaste
Valentyn sê dinge vorder goed.
“Ons wil eerder toerusting as geld hê. Borge wil graag sien wat met hul skenkings gedoen word. Ons gaan al die borge nooi om die biblioteek te besoek. Ons wil graag ‘n hoekie inrig om borge erkenning te gee deur hul name aan te bring.
“Ons het al klaar baie boeke gekry, maar daar is altyd nog nodig.”
Williams sê die 500 ondersteuners wat die konsert bygewoon het, wil hê dit moet ‘n jaarlikse instelling word.
” Ons gaan nou elke jaar ‘n kompetisie hou vir kinders van minderbevoorregte skole wat redes moet gee waarom hul skool die geld nodig het. Ons sal dan die briewe gebruik om ‘n skool te kies wat die geld wat ons by die konsert ingesamel het, sal ontvang,” het Williams gesê.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.