Kombersies bring warmte


DIE hartlikheid van wyk 12-raadslid Shirley Sauls hou die inwoners van haar wyk warm hierdie winter.


In Januarie vanjaar het Sauls materiaal gekry by Magdeline Adams van Salsoneville (wat ondertussen oorlede is), met die versoek dat sy iets moes doen daarmee om ’n verskil te maak in die lewens van die inwoners van die gebied.


"Ons het besef dat komberse iets is wat almal nodig het. Ek en my span van drie ander vrouens van die gebied het toe begin om trooskombersies te maak,” vertel Sauls.


Die Volpes-maatskappy het nog materiaal geborg en trooskombersies is nou al aan sewe preprimêre skole, sowel as indiwidue geskenk.


"Die kombersies neem omtrent drie ure elk. Ons moet dit ná werk en oor die naweek maak omdat daar eenvoudig nie tyd gedurende die dag is nie.


"Maar dis die tyd werd as jy sien hoe gelukkig dit die mense maak,” sê Sauls.


"Die projek lê na aan almal se harte wat daaraan deelneem. Soms weet ek nie wie gaan meer huil nie – ek of die mense wat die kombersies kry.”


Die projek brei nou so ver soos Humansdorp, Kirkwood, Uitenhage en Oos-Londen uit.


subscribe