Hy laat dansvloere gons

BENA B is ‘n naam wat die meeste jong mense van iets in die twintig in Port Elizabeth baie goed ken. Dié inwoner van Aspen Heights hou al vir ‘n paar jaar die jong mense in die stad deurnag op hul voete op die ritme van sy funky house-klanke.
Brandon David Filmalter, 24, was maar 17 toe hy as platejoggie begin het. Sedertdien het hy baie meer genres baasgeraak, meer van musiek begin verstaan en meer respek daarvoor gekry.
“Ek het altyd jong platejoggies in aksie by ons skool se socials gesien. Al wat ek gedoen het, was om te kyk wat hierdie ouens doen. My mond het oopgehang oor die reaksie van die kinders, die atmosfeer en die genot op die platejoggies se gesigte.
“Dit het my aangespoor om ‘n platejoggie te word en natuurlik, om my wens te bewaarheid om my liefde vir musiek – wat ek van kleins af koester, verder te vat en meer daarvan te ontdek.”
As een van die permanente platejoggies by die gewilde klub The Godfather Supreme in die Noordelike Gebiede, het Filmater verduidelik dat ‘n mens nie oornag die kuns aanleer nie. Volgens hom moet ‘n mens voortdurend jou vaardighede ontwikkel en opskerp alvorens jy meer van klanke en gehore leer.
“My eerste informele probeerslag was by ‘n huispartytjie in my buurt en my eerste ernstige optrede as platejoggie was by ‘n klub wat toe as Atmosphere bekend gestaan het. Ek het intussen ongetwyfeld baie as platejoggie ontwikkel.
“Ek sal nooit kan sê ek weet nou alles wat ‘n mens van die kuns kan weet nie, maar ek weet my tegniek het baie deur ervaring en veral deur blootstelling verbeter.
“Die manier waarop ek speel, het ook baie verander van toe ek begin het. Ek is baie veelsydiger as in die verlede. Ek kan baie meer genres speel en het ook meer selfvertroue om’n gehoor te kan opsom,” het Filmater gesê.
Buiten die blootstelling wat dié lewendige breker van house plaaslik ontvang het, het sy musiek ook gesorg dat hy op die platejoggie Roger Goode van 5fm se program opgetree het.
“Die hoogtepunt van my loopbaan was toe Roger Goode my self genooi het om as gas-platejoggie op sy 5fm-program op te tree. Blote toeval het gesorg dat hy by die klub opdaag waar ek gewerk het. Dit was egter geen gelukskoot dat hy my genooi het om op sy program op te tree ná hy my gehoor speel het nie.
“Dit het baie goed gevoel dat ‘n groot naam in die bedryf soos hy aan my talent erkenning gegee het. Dit was ook iets om op trots te kan voel omdat 5fm ‘n mens nasionale blootstelling gee. Ek glo my musiekkeuses is baie goed deur talle luisteraars ontvang,” het Filmater gesê.
Die aspirant-kunstenaar hoop om eendag sy droom te kan bewaarheid om saam met die wêreld se beste platejoggies op Ibiza te kan optree.
 

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.