Helenvale wow

SES laerskole in Helenvale het 21 leerlinge dié naweek na ‘n spelkompetisie, Woorde Open Wêrelde (WOW), in Stellenbosch gestuur.
Frantisca Francis, 10, van die Laerskool Helenvale het ‘n derde plek behaal. Sy het R150 en ‘n woordeboek gewen.
Die leerlinge is uit 114 deelnemers op provinsiale vlak gekies om die Oos-Kaap te verteenwoordig.
Die taalgerigte WOW-gemeenskapsprojek word al 13 jaar lank aan die Universiteit van Stellenbosch bedryf. Dit is veral op woordvaardighede, lees, geletterheid en die kunste – met Afrikaans as fokustaal – gemik.
Deur op lees en moedertaalonderrig in Afrikaans te fokus, probeer die WOW-projek ‘n bydrae lewer om die onderrigkrisis in Suid-Afrika die hoof te bied, sê die organiseerders.
Marsha Jacobs, ‘n onderwyser van Helenvale Primêr, het die kinders afgerig.
“Een van my oud-leerlinge, Fiona van Kerwel, is ‘n lektrise op Stellenbosch en het WOW aan Oos-Kaapse skole bekend gestel.
“Graad 6-leerlinge van Helenvale Primêr, Bayview, Triomf, Astra, Republiek en Hillcrest het 600 woorde in drie maande bemeester,” het Jacobs trots gesê.
Die kinders is geesdriftig deur die gemeenskap ondersteun, sê sy.
“Ons raadslid, Nico du Plessis het ‘n Greyhound-bus gereël om ons daar te kry. Stellenbosch het blyplek en kos vir ons gereël terwyl ons daar was. Die kompetisie het ons kinders niks gekos nie!”

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.