Helenvale-groep wil gemeenskap ophef

VIR die Minnaar-gesin van Helenvale was dit ‘n moeilike jaar. Een van die grootste terugslae was toe die 13-jarige Qiovanna met kanker gediagnoseer is.
Maar die mense van Helenvale het tot hul redding gekom.
Soos Qiovanna se ma Lorna sê: “Die Here het gesien hoe ons sukkel en het van Sy engele in die vorm van die Helenvale Empowerment-span [Hemco] gestuur om ons te help.”
Lorna sê toe Qiovanna met osteoblastic osteosarcoma, ‘n soort beenkanker van die gewrigte wat veral by kinders voorkom, gediagnoseer is, het sy gesukkel om alles alleen te hanteer as hoof van die huishouding.
“Qiovanna kon nie meer vir haarself sorg nie. Ek moes haar was en aantrek. Die geld wat my huiswinkel ingebring het, was nie meer genoeg nie. Dit is waarom ons so dankbaar vir die mense van Hemco en Helenvale is.
“Ek het nooit gedink daar is soveel mense met sulke groot harte in ons buurt nie,” het Lorna gesê.
Die voorsitter van Hemco, Nadia Abdul, sê die organisasie is oorspronklik gestig om die buurt op te ruim, maar toe hulle van Qiovanna in die koerante gelees het, het hullebesluit om haar te help.
“Ons kon nie aan iemand beter dink om geld voor in te samel vir ons eerste gemeenskapsprojek nie.”
Qiovanna sê Hemco het haar hoop gegee.
“Al mag ek miskien nie meer hier wees nie weet ek hulle sal aangaan om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak,” sê sy.
Abdul sê die projek is net een van baie wat Hemco vir die gemeenskap wil doen.
” Ons wil onwettige stortingsterreine in Helenvale opruim. Ons het al die ondersteuning van die drie skole in die buurt en ons wil nou die hele gemeenskap betrek deur hulle bewus te maak van hoe belangrik dit is, ” sê sy.
“Ons wil die mense van Helenvale mag gee om op te staan en hulself te verbeter.”

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.