Gospelgroep maak debuut

DIE noordelike gebiede is vol talent, en nou gaan die manne van Life Lyne hulle beurt kry om dit te wys. Die Gospelgroep gaan vir die eerste keer die verhoog betree wanneer hulle Saterdag April 28 by die Little Theatre in Sentraal gaan optree.
Die drie talentvolle sangers van die groep, broers Eon en Stanley le Roux en hulle vriend Wickus Prinse het Life Lyne eers onlangs gestig.
Die broers het hul voete gevind in die Bethelsdorpse Sewendedag-Adventiste kerk toe hulle al op ses jaar in die kerkkoor gesing het.
“Toe ons 19 jaar oud was, het ons al baie jeugaande bygewoon en vir verskillende kerke gesing. Ons het gevoel die tyd is reg om ’n Gospelkonsert te hou. Dis toe dat ons regtig die gemeenskap se ondersteuning begin voel het,” het Stanley gesê.
Kort daarna het die broers met Wickus en sy stem by ’n kerkdiens kennis gemaak. Hulle het onmiddellik besluit dat hulle nie hierdie stem verlore kan laat gaan nie.
“Ek wou deel wees van die groep toe ek hulle boodskap gehoor het. Die doel van Life Lyne is om die jeug op te bou in ons gemeenskap deur hulle met musiek te inspireer en hulle te laat glo dat God altyd daar is om hulle te beskerm en sterk te maak,” het Wickus gesê.
Hulle het begin saam sing en besef die groep kort ’n naam om saam met die gesigte te gaan. Op 1 Desember verlede jaar is Life Lyne in die Le Roux-gesin se motorhuis gestig.
“Dit is ons se eerste regte aanbieding en ons senuwees kan dit voel. Ons is gereed vir die meer as 200 mense wat verwag word – ons hettwee keer per week drie uur lank geoefen,” het Eon gesê.
“Ons wil in Desember ’n konsert ten bate van gestremdes hou en ons eerste album volgende jaar uitreik, maar ons is dankbaar dat ons kan doen wat ons gelukkig maak en dat ander dit ook geniet,” het Stanley gesê.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.