Goed genoeg vir OP se rugby en krieket

HY mag ietwat skaam wees as jy hom ontmoet, maar as Ernst Stapelberg, 17, op die krieket- of rugbyveld is, is daar niks wat hom sal keer nie.
Ernst is in Graad 11 aan die Hoërskool Framesby en het reeds van 2005 OP-kleure vir verskeie sportsoorte ontvang.
Dié rooikop het vir OP skaak gespeel toe hy maar o-11 was en in 2007 het hy die OP-span gehaal in rugby, sy gunsteling-sport.
In 2008 het hy vir OP krieket en rugby gespeel en in 2009, 2010 en 2011 krieket, asook OP rugby in 2011, gespeel. Hy was ook deel van die uitgesoekte o-16 Suid-Afrikaanse elite rugbyspan in 2011 waar die top-spelers van regoor Suid-Afrika gekies word om aan ’n toernooi deel te neem.
Hy het ook sy staal in die Craven-week getoon.
“Dit was vir my baie lekker om met die land se top-afrigters te oefen”.
Hy was ook deel van die o-16 span wat aan die Grant Khomo-toernooi deelgeneem het – die land se beste o-16 provinsiale spanne neem daar deel.
“Ons span het die toernooi gewen,” kom dit met trots.
Die losskakel wat vir sy skool se eerste span speel, sê hy kry bitter min tyd om aan ander aktiwiteite deel te neem.
“Dis maar gewoonlik rugby of krieket ná skool,” lag hy.
Soms kry hy die kans om saam met sy ouer broer, Heinrich, en pa, Frans, gholf te speel en hou daarvan om tyd saam sy meisie en vriende te spandeer.
“Niemand in my familie speel ernstig rugby nie en my liefde vir die sport het begin toe ek nog bulletjie-rugby in die laerskool gespeel het,” vertel Ernst.
Ernst is nie hier in die Baai gebore nie maar volgens hom bly hy en sy familie al lank in Sunridge.
“Ek is ’n tipiese tiener,” sê Ernst en erken op die oomblik is dit basies “skool, rugby en slaap”.
Die sportbestuurder van Framesby , Christo Scriven, het gesê as losskakel is Ernst die generaal van die span.
“Hy weet net wanneer om te skop en wanneer om te hardloop. Hy is baie toegewyd aan sy span en die sport.”
Volgens Ernst is hy ’n alsydige speler as dit by krieket kom, maar is meer van ’n bouler – hy is ’n linker-draaibalbouler.
Ernst het gesê daar is ’n paar toernooie waarna hy vanjaar uitsien, maar op die oomblik wil hy net daarop konsentreer om Framesby se eerste span se gradering (13de op Suid-Afrika se toplys vir skoolrugby) te verbeter.
Ernst se ideaal is om rugby of krieket sy loopbaan te maak. Maar terselfdertyd voel hy hy dit is ewe belangrik om verder te gaan studeer – dalk in sportwetenskap.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.