Glenville kraai eindelik koning


ENGEN se onder 17-uitkloptoernooi het verlede naweek op 'n hoogtepunt geëindig toe Glenville Celtic, wat as gashere opgetree het, die sokkertitel vir die eerste keer gewen het deur die gunstelinge van dié toernooi, Shining Stars van Motherwell, 2-1 by Glenville te klop.


Glenville speel al die afgelope drie jaar gasheer vir die toernooi, maar die span kon nog nooit die toernooi wen nie. Hulle is nou R10000 ryker deur dit vanjaar te wen.


Glenville het weggespring met die doel om vanjaar die trofee in die lug te kan hou, maar was halftyd 1-0 agter ná Buhle Khathe van Stars 'n doel met 'n vryskop aangeteken het.


Die gashere het sterk teruggeveg in die tweede helfte en hul spanpoging is beloon met 'n gelykmaker-doelskop van Juandre Jordaan.


Stars het probeer om weer hul voete te vind, maar Glenville was oorgehaal om vanjaar die titel te wen.


Darren Bambo het met sy wendoelskop gesorg dat Glenville as Port Elizabeth se streekskampioene vir die toernooi uit die stryd getree het.


Die toernooi bied al jare lank die geleentheid vir spelers om hul professionele loopbane op dreef te kry en vanjaar was geen uitsondering nie.


Die organiseerders was baie tevrede dat die toernooi so glad verloop het.


"Die toernooi was 'n groot sukses en die administrateurs van al die spanne en die organisasie was uit die boonste rakke," het die direkteur van die toernooi, Elroy Swart, gesê.


Swart sê dit was 'n geleentheid vir Glenville om te wys wat hulle as 'n klub kan doen.


"Ons is baie trots om as gasheer te kon optree," sê hy.


Die afrigter, Jerome Stowman, sê om te wen was 'n bonus.


"Ons het die toernooi met harde werk en deursettingsvermoë gewen en ons voorbereiding het in ons guns getel. Ek is trots op my span. Dit was 'n geleentheid vir hulle om te groei en te verbeter."

subscribe