Gelvandale sy teelaarde

Unathi Shologu


DIE Suid-Afrikaanse krieketspeler, Ashwell Prince is nie net in naam koninklik nie. Hy gee die Noordelike Gebiede krediet vir die blou krieketbloed in sy are.


"Die lewe het my goed behandel om in Gelvandale te kon grootword. As kinders het ons oorkant die park gewoon. Daar het ons allerhande 'toetswedstryde' in verskeie sportsoorte gespeel, maar dit was veral krieket en sokker."


Sy toewyding aan krieket is beînvloed deur die strawwe mededinging in 'n groot verskeidenheid van sportsoorte. Dit het veroorsaak dat die Noordelike Gebiede in Port Elizabeth vyf nasionale krieketspelers opgelewer het. Buiten Prince is daar Garnett Kruger, Robin Peterson, Alviro Peterson en Wayne Parnell, en een internasionale skeidsregter, Shaun George.


Prince het sy debuut in professionele krieket in die seisoen van "95/96" gemaak toe hy vir die Oostelike Provinsie begin speel het. Sy pa, Willie, en oudste broer, Lloyd wat krieket gespeel het in sy vormingsjare het hom beïnvloed om krieket te speel. Hoogtepunte in Prince se loopbaan sluit in 100-talle in toetswedstryde op Lords en Sydney en die eer om Suid-Afrika as kaptein te verteewoordig in die toetsreeks in Sri Lanka.


Prince sê daar sal nog heelwat in afrigting en fasiliteite belê moet word om die jeug met die nodige vernuf toe te rus om in sport te kan uitblink.


"Mens besef eers hoeveel werk jy as 'n span moet doen wanneer jy week na week baie sterk kompetisie het. Mens moet gereeld getoets word."


Prince sê 'n baie stewige basis tuis is noodsaaklik. Hy is dankbaar vir sy familie en vriende wat altyd by hom staan deur sy suksesse en mislukkings in sy sportloopbaan. Om weg van hulle te wees, bly sy grootste uitdaging.


Prince glo "harde werk sal altyd beloon word". Hy moedig mense aan om te volhard. Hy sê hy het nie ryk grootgeword nie, maar sy ouers het altyd hard gewerk om aan hul gesin te gee wat hul nodig gehad het.

subscribe